ʼn Hondjie wat met groen hare gebore is, is onmiddellik Pistachio gedoop.
Die hondjie is deel van ʼn werpsel van vyf wat gebore is op ʼn plaas op Sardinië, die eiland in die Middellandse See, berig BBC. Die ander vier hondjies se hare is almal wit soos dié van hul ma.
Christian Mallocci, ʼn Italiaanse boer, kon sy oë nie glo toe die reuntjie sy opwagting gemaak het nie. Hy het besluit om die ander vier hondjies weg te gee maar om Pistachio te hou sodat hy saam met sy ma skape kan oppas.
Volgens CNN is dit baie seldsaam dat ʼn hond met ʼn groen pels gebore word. Daar word vermoed dat dit veroorsaak word wanneer die fetus in die baarmoeder met biliverdien, ʼn groen galpigment, in kontak kom.
Pistachio se pels het reeds begin ligter raak en dit sal aanhou verdof soos wat hy ouer word.
Dierbaar.