Huis op privaat eiland joune vir sowat R30 miljoen

Husabost-landgoed (Foto: Strutt & Parker-eiendomsagentskap)

ʼn Landgoed op ʼn privaat eiland aan die kus van die Verenigde Koninkryk is te koop vir dieselfde bedrag as ʼn woonstel in Londen.

Die 18de eeuse Husabost-landgoed, geleë op die noordweste kant van die Duirinsh-skiereiland op die Eiland Skye, Skotland, is joune vir £1,325 miljoen (ongeveer R32 miljoen).

Dit is goedkoper as eiendom in die hoofstad van Engeland, waar ʼn eenslaapkamerwoonstel jou sowat £1,5 miljoen uit die sak kan jaag.

Die eiendom beslaan 2 395 hektaar en spog met ʼn kuslyn van sowat agt kilometer. Die 1 400 m²-eiendom het nege slaapkamers met ʼn uitsig oor Loch Dunvegan.

Die landgoed sluit ook die dorpie Borreraig, die tuiste van die MacCrimmon-kollege in waar belangstellendes van reg oor Skotland kom om te leer hoe om die doedelsak te bemeester.

Die huis is ʼn sogenaamde graad C-gebou wat opknappingswerk benodig. Daar is ʼn kombuis, sitkamer, eetkamer, twee slaapkamers en ʼn badkamer op die grondverdieping.

Op die eerste verdieping is daar ruimte vir gaste met vyf slaapkamers, ʼn badkamer en ʼn sitkamer. Daar is nog twee slaapkamers op die tweede verdieping.

Husabost-landgoed (Foto: Strutt & Parker-eiendomsagentskap)

Die nuwe eienaars sal ook visvangregte ontvang en daar is ʼn boothuis by die prys ingesluit.

Euan MacCrimmon, eiendomsagent by Strutt & Parker, sê die Skotse eiendomsmark presteer die afgelope paar jaar baie goed. “Geleenthede soos die Husabost-landgoed is egter baie seldsaam. Dit is nie elke dag dat ons sien dat eiland-landgoedere beskikbaar gestel word nie, veral nie een wat só baie opsies bied nie.”

Volgens MacCrimmon bied die landgoed die moontlikheid vir groen belegging, boerderygeleenthede en die moontlikheid van residensiële ontwikkeling.

Eiland Skye is 80 km lank en is die grootste van die Binne-Hebrides. Dit is bekend vir sy landskappe en asemrowende tonele. Dit is ʼn gewilde bestemming vir bergklimmers en natuurliefhebbers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

piet ·

Drink net die whisky dan dink jy jy braai sommer ook. So dis geen probleem nie.

Misky ·

Sjoe, ek dink dis pragtig en sal enige tyd daar gaan bly. Eintlik nie so baie as ek na sommige lelike, koue en kasarm van huise sien vir dubbel daai prys nie. Ek sal dan die president op my eie eiland wees en eerste wet is ANC en EFF word nie toegelaat op my eiland nie – ha ha ha

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.