Identiese tweeling trou met identiese tweeling

Die twee stelle identiese tweelinge (Foto: Nikos Frazier, Jackson Citizen Patriot via AP)

Twee stelle identiese tweelinge sal hierdie naweek trou aan mekaar beloof nadat hulle saam verlief geraak het op mekaar. Die twee paartjies het hul eerste afspraak en verlowing gedeel en beplan om ook saam in dieselfde huis in te trek.

Die identiese tweeling Kassie en Krissie Bevier van Michigan trou met die identiese tweeling Zack en Nick Lewan onderskeidelik Vrydag en Saterdag in Grass Lake, berig die Jackson Citizen Patriot.

Krissie en Zack trou Vrydag en Kassie en Nick trou Saterdag. ʼn Gesamentlike onthaal word vir Saterdagaand beplan.

Die een ding wat die twee paartjies nie saam gedoen het nie, was om mekaar te ontmoet. Kassie en Nick het al vier jaar gelede ontmoet toe hulle ʼn sielkundeklas bygewoon het by Grand Valley State University, berig AP. Die professor wou weet of daar enige tweelinge in sy klas is en die twee het hul hande opgesteek. “Ek het rondgekyk en toe ek omkyk, het ek sommer dadelik geweet ek is in die moeilikheid!” lag Nick.

Die twee het besluit om een Sondag mekaar by die kerk te ontmoet en het onderskeidelik hul broer en suster, Zack en Krissie, genooi. Dié twee het kort daarna ook in ʼn verhouding betrokke geraak. En die paartjies was sedertdien onafskeidbaar.

“Daar is ʼn baie spesiale band tussen tweelinge, en om iemand te hê wat dit verstaan is nogal ʼn groot ding,” het Krissie verduidelik.

Die Lewan-tweeling het die groot vraag aan die twee susters gevra toe hulle verlede jaar saam die Henry Ford-museum in Dearborn besoek het. “Dit het half op dieselfde tyd gebeur,” het Kassie gesê.

Die paartjie gaan ná die troue saam in ʼn tweeslaapkamerhuis in Michigan intrek.

Alhoewel hul liefdeslewe soortgelyk is, benadruk Zack dit dat hulle almal verskillende mense is. “Ons is almal individue. Ons werk verskillend en ons het verskillende belangstellings, maar ons respekteer mekaar juis vir dié verskille.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Rupert Ashford ·

Waar’s die genetici onder ons nou om te help? As ek dit nie mishet nie kan hierdie pare se kinders ook teoreties “identies” uitdraai…

Jane ·

Identiese tweelinge is nie geneties nie, maar sou hulle kinders hê sal die kinders se genetiese samestelling eerder die van sibbe wees as die van neefs en niggies

M ·

Identiese tweelinge is nie geneties; dit gebeur net (sonder rede) dat een sel presies verdeel. Nie-identiese asook seun/dogter tweelinge/ meerlinge is geneties omdat dit die geneigheid is by n vrou om meer as een eiersel op n keer vry te stel en dit dan hoe laas genoemde tweelinge ontstaan.

Spike ·

Pragtige mense, maar dit kan ñ deur mekaar storie raak. Ek is verlief op witmense.

Gesiggie ·

JMC?? NEE REGTIG…. Ek dink dit is n mooi verhaal van die Tweeling broers en susters… maar om n huis saam te deel ” dink nie so, elkeen moet op sy eie woon. Als wat mooi is vir jul… wonder ook maar as daar eendag kinders moet kom, dalk dan n vierling?

Callie ·

Daar kan n deurmekaar spul kom. Man kan baie maklik in die moeilikheid beland sonder om eers te weet

Robert ·

Geneties mag hulle dalk identies wees maar op gelaatstrekke verskil hulle definitief van mekaar

Niklaas ·

Dis een pragtige verhaal. Daar was al voorheen sulke gevalle en dan het die 2 dames in dieselfde datum babas gekry .

Lukie Carelsen ·

Wat ‘n wonderlike storie.
Hoop hulle gaan baie vreugdevolle en geseënde huweliksjare hê wat voorlê!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.