In die sop oor huurvideo ná 22 jaar

Argieffoto (Foto: InspiredImages/Pixabay)

Caron McBride, of iemand wat haar videowinkel-kaart gebruik het, het in 1999 ʼn VHS-band gehuur wat nooit teruggegee is nie. Die 52-jarige vrou van Texas het vandeesmaand verneem dat dié 22 jaar oue fout haar nou ʼn strafregtelike klag op die hals gehaal het.

Volgens USA Today het McBride eers onlangs van haar voortvlugtende status te hore gekom toe sy haar naam ná haar troue wou verander. Iets het ʼn oponthoud veroorsaak in Oklahoma, waar sy voorheen gewoon het. Toe sy ondersoek instel, het sy “byna ʼn hartaanval gekry”.

ʼn Video van die kinderreeks, wat jare gelede al gekanselleer is, Sabrina the Teenage Witch, is in 1999 by Movie Place in Norman gehuur en die band is nooit teruggegee nie. Die aanklag: strafregtelike bedrog.

McBride was geskok en ook verward. Sy het aan KOKH gesê sy het nog nooit die program gesien nie – wat nog te sê om die band te huur. Sy vermoed ʼn ekskêrel het dalk die video vir sy jong dogters gehuur toe hulle jare gelede saamgebly het.

McBride was bekommerd dat die aanklagte, waarvan sy nie eers bewus was nie, moontlik daartoe kon lei dat sy haar werk verloor en sy het aan USA Today gesê sy het gesukkel om ʼn prokureur te kry wat bereid is om haar te help. Dit wil egter voorkom of daar ʼn ligpunt is: volgens hofdokumente is die saak reeds van die rol geskrap “in die belang van geregtigheid”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Janee

Ag kom nou!….maar aan die ander kant, dis ook weer USA

koos10

Met my ook in SA gebeur.
Familie lede het op my naam en nommer videos gaan uitneem en nie terug gevat nie. Hulle bel my en vra waar dit is, en wil nie aanvaar dat ek niks daarvan weet nie.

RS

Hoe meer dae, hoe belagliker die sake.