Inhegtenisneming ná stink sokkies konsternasie veroorsaak

Argieffoto (Foto: AlexLoban, Pixabay)

ʼn Man, wie se onwelriekende kouse ʼn konsternasie op ʼn bus veroorsaak het, is in hegtenis geneem.

Die man het sy skoene en kouse uitgetrek op ʼn bus van Himachal Pradesh in die Himalajas op pad na New Delhi. Volgens die polisie het hy die skoene en kouse in die gangetjie gesit, maar ander passasiers het geprotesteer en hom gevra om die onwelriekende sokkies weg te bêre of selfs weg te gooi.

Die man het geweier en ʼn konfrontasie het gevolg. Die busbestuurder het uiteindelik die bus by ʼn polisiestasie in Una, Himachal Pradesh, tot stilstand gebring.

Sanjeev Gandhi, hoof van polisie in Una, het aan AFP gesê die bus het ʼn paar keer stilgehou weens die “onwelriekende chaos” voor hulle uiteindelik by die polisiestasie aangekom het.

“Die man is in hegtenis geneem op aanklag dat hy ʼn las vir die publiek was en is later vrygelaat op borgtog,” het Gandhi verduidelik. Die man het glo ander passasiers gedreig en ook ʼn ontwrigting by die polisiestasie veroorsaak.

Die beskuldigde het intussen ʼn klag aanhangig gemaak teen sy medepassasiers en die busbestuurder vir teistering. Hy hou vol sy kouse was nie onwelriekend nie. Hy het ʼn dag later met ʼn ander bus die gebied verlaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Oumie ·

Hehee! Ek is bly ek was nie by nie. Darem nog ietsie om oor te lag…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.