Inkopielys ná byna 400 jaar gevind

Die inkopielys gedateer Oktober 1633. Foto: www.nationaltrust.org.uk

Die inkopielys gedateer Oktober 1633. Foto: www.nationaltrust.org.uk

ʼn Britse argeologie-span wat besig is om ʼn huis in Kent in Engeland te restoureer, het op ʼn inkopielys afgekom wat byna 400 jaar oud is.

Die National Trust, ʼn Britse bewaringsorganisasie, het ʼn geruime tyd gelede begin om Knole, ʼn historiese huis in Kent, te restoureer. ʼn Vrywilliger en argeoloog, Jim Parker, het die buitegewone vonds onder die vloer in die solder van die huis gemaak.

Parker skryf op die National Trust se webtuiste hy het die twee stukke papier gevind en liggies die stof afgeblaas om te bepaal wat dit was. Die eerste was ʼn brief van Robert Draper, vermoedelik detyds ʼn werker in die huis, waarin hy ene mnr. Bilby versoek om onder meer piouter lepels, ʼn nuwe braaipan en “groen vis” vir hom te stuur. Die brief is gedateer Oktober 1633.

Die tweede brief, wat in 1603 geskryf is, is ongelukkig onleesbaar en kon, ondanks ʼn noukeurige skoonmaakproses in ʼn Londense laboratorium, nie ontsyfer word nie. ʼn Derde brief is later ook in die dak van die huis gevind, wat vermoedelik oor die jare uit die solder in die dak in geval het. Hierdie brief is na die skoonmaakproses net gedeeltelik leesbaar.

“Dit was ongelooflik opwindend om deel van so ‘n ontdekking te wees. Ek moet erken ek was vir die res van die dag baie opgeruimd,” het Parker gesê. Volgens die span is die ontdekking nog opwindender, juis omdat die briewe nog in so goeie toestand is en sodoende insig gee in die korrespondensie van die vroeë sewentiende eeu.

Die briewe word nou by die Knole-besoeksentrum uitgestal.

Dit is nie bekend of mnr. Draper ooit sy lepels en groen vis ontvang het nie…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Carel ·

Die “groen vis” was seker ook ‘n paar honderd jaar oud.

Justice ·

Skerp Carel – ek het nogal gewonder wat is die groen vis.

Johann ·

Carel ja vertel asb wat is groen vis, as die stukkie bewaarheid is eet ek jou visse almal op, hê hê

Dirk Coetzee ·

Baie dankie Maroela. Dit is leesstof soos dié wat die lewe interessant maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.