Is jy gereed vir die goorste dag van die jaar?

Foto: Maddi Bazzocco/Unsplash)

Deur gebruik te maak van ʼn ingewikkelde algoritme het dr. Cliff Arnall, ʼn Britse sielkundige, die derde Maandag in Januarie (die 21ste) as die goorste dag van die jaar geïdentifiseer.

Dié algoritme neem verskeie faktore soos finansiële skuld, mislukte Nuwejaarsvoornemens en lae motiveringsvlakke in ag.

Behalwe vir die ekstra geld wat in die Desembervakansie spandeer is en skuld wat dikwels aangegaan is, sê kenners dat wanneer die pret en plesier van die vakansie verby is en ons die Kersliggies afhaal, ons gemoed ook saam met dit afneem.

Shougat Mugienker, die portefeuljebestuurder vir geestesgesondheid by Pharma Dynamics, ʼn gesondheidsmaatskappy wat spesialiseer in antidepressante, sê die vakansie gee vir meeste mense ʼn tydelike “goedvoel periode” met ʼn laggery, musiek en ligte oral waar ons gaan.

Maar wanneer dié periode verby is, staar die realiteit van die normale lewe ons weer in die oë.

“Teen die tyd wat Maandag 21 Januarie aanbreek, is jy nie net gedruk vir geld nie, maar jy moet dalk ook vrede maak met jou Nuwejaarsvoornemens wat misluk het. Dít gemeng met die wete dat jy nie weer ʼn lang vakansie gaan hê vir die volgende 11 maande nie, kan dié tyd van die jaar spesifiek goor laat lyk,” sê Mugienker.

Hy sê hoewel dit normaal is vir jou gemoed om in Januarie laag te wees, is depressie-gevalle in Suid-Afrika oor die algemeen kommerwekkend hoog.

“Een uit drie Suid-Afrikaners sukkel met depressie. Daarom is dit belangrik vir die publiek, en veral dié tyd van die jaar, om behoorlike vaardighede aan te leer om depressie te hanteer.”

Die wenke kan help om jou gemoed in Januarie te verbeter:

  • Identifiseer hoekom jy so sleg voel. Is dit gesondheid, geld, sosiaal, persoonlik, spiritueel, werk, jou lewensmaat, familie en vriende of jou huislike omgewing wat jou so laat voel? As dit jou werk is wat jou ongelukkig maak, is dit dalk tyd om van werk te verander.
  • Stel vir jouself realistiese verwagtinge, selfs al beteken dit dat jy jou oorspronklike lys van Nuwejaarsvoornemens moet skrap.
  • Moenie uitstel nie. Hoe meer jy uitstel om dinge te doen, hoe slegter gaan jy voel.
  • Identifiseer aktiwiteite in jou lewe wat jou stresvlakke verminder, soos om ’n boek te lees, tyd buite deur te bring of om na musiek te luister. Maak dan meer tyd vir dié aktiwiteite gedurende die nuwe jaar.
  • Probeer om gereelde oefening deel van jou lewe te maak. Fisieke aktiwiteite laat endorfiene vry wat stres verminder en jou gelukkig laat voel.
  • Volg ʼn gebalanseerde dieet om jou gemoed te lig. Weke van ooreet kan jou moeg laat voel.
  • Neem finansiële besluite wat jou nie in die moeilikheid gaan laat beland nie. Indien jy reeds in die moeilikheid is, gaan sien ʼn skuldberader vir raad.
  • Bly positief deur dankbaarheid uit te spreek vir die goeie dinge in jou lewe. Dankbaarheid is die kern van geluk.
  • Moenie ʼn tydsbeperking op jou geluk plaas nie. Baie mense sê hulle sal gelukkig wees as dit vakansie is of as hulle meer geld het, maar dan is jy net besig om waardevolle tyd om te wens. Geniet eerder Januarie en elke maand daarna deur jou ure te vul met dinge wat waarde tot jou lewe toevoeg.
  • Beplan prettige, maar bekostigbare aktiwiteite deur die loop van die jaar sodat daar deurlopend dinge is om na uit te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

MJ ·

Gewoonlik sal ek ook in Januarie die ‘blues’ hê…. Het te min geld en het te veel geëet gedurende Kerstyd. Maar op 31 Desember 2018 het ek en my man begin om ‘n gewigsverlies-eetplan aan te durf. En nou, amper drie weke later, is ons gesamentlik 13 kg ligter en het baie meer energie en geld (want hoekom so baie kos koop in Januarie?). Wat ‘n wonderlike manier om ‘n nuwe jaar te begin!

Sê-ma-net ·

Ná Desember salaris, voel die 55ste Januarie nog vrek vêr…?

RonelS ·

Die heel laaste punt is die beste raad. Dis beter om kort-kort iets kleins te doen of erens te gaan as om heel jaar by die huis te sit en wag vir die een groot vakansie. Daarna voel jy soe depresief vir die hele jaar, want jy moet wag. As jy elke nou en dan iets doen is die verwagting beter. Ons gesin geniet deur die jaar verskeie dinge saam.

Nettie ·

Aaag nee wat, elke dag van die jaar is sommer vir my ‘n goor dag. Ander mense gaan met vakansie, rits rond, gaan by restaurante uiteet, besoek verskillende plekke, het mooi huise, mooi karre, verdien lekker vet salarisse …..

Ek, daarenteen, verdien net genoeg om darem nie sleg in die skuld te kom nie, ek kan nie vakansies, restaurant-kos, rondritsery of luukses bekostig nie. My salarissie gaan net so vir kar-paaiement, huishuur, krag en water, kruideniersware en die paar klere-rekenings wat ek het, asook honde- en katkos/veearts-koste.

Daarom gaan Desembermaand my verby – niemand gee vir my Kersgeskenke nie, want ek is alleen en al verjaar ek ook in Desember, kry ek nie eens ‘n verjaarsdaggeskenk nie. Dis net ek en my viervoetiges by die huis, so hoekom nog bodder met Kersfees of Kersdag?

Roddy ·

Moenie so opnoem nie, dit is darem nognie die 21ste nie LOL.

Basjan ·

Dis nou goor. My seuntjie word 6 op 21ste wat die goorste dag is. haha. Darem het ek in Desember al my Januarie geld in ‘n aparte rekening gesit en nie daaraan geraak nie.

jean ·

Nettie….daardie viervoetiges is jou beste vriende…nie die wat jou uit die bloute weer ken en wil kom afpak in Desember omdat hulle dink jy is ‘n hotel by die see nie. Vanaand drink ek ‘n rooietjie op jou en wens jou alles wat mooi is toe vir die jaar wat voorlê!!

Liezl ·

Ek klink saam met julle, Jean!! Goeie ou rooi wyntjie. Enjoy…ek stem saam met die viervoetiges?

Pensioenaris ·

Ai Nettie, ek voel vir jou, maar onthou jou vier voetige kinders is jou beste vriende. n laat verjaarsdag wens, baie geluk met jou verjaarsdag mag jy n voorspoedige vreugde volle jaar he.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.