James Bond se motor vir byna R60 miljoen verkoop

(Foto: James Bond 007/Facebook)

ʼn Replika van ʼn Aston Martin DB5 wat vir toertjies in die James Bond-lokettreffer No Time To Die gebruik is, is onlangs vir byna R60 miljoen op ʼn veiling verkoop.

Christie’s-afslaers sê die opbrengs uit die verkope sal aan liefdadigheidsorganisasies geskenk word, tesame met die opbrengs uit die verkope van 24 ander items wat op ʼn spesiale veiling verkoop is. Die motor is vir £2,92 miljoen (sowat R58,9 miljoen) verkoop.

Die spesiale veiling vier 60 jaar van 007.

Die replika is toegerus met nagemaakte masjiengewere agter die kopligte. Nog items is tot 5 Oktober op Christie’s se webwerf te koop.

Die replika van die ikoniese Aston, een van agt wat spesiaal vir die 2021-fliek ontwerp en vervaardig is, is die enigste DB5-waagtoertjiemotors wat deur Aston Martin en EON Productions te koop aangebied word, aldus Christie’s.

Op dieselfde veiling is die ikoniese Fabergé-eier uit Octopussy vir £327 600 (R6,6 miljoen) verkoop – meer as 54 keer die verwagte prys. ʼn Omega Seamaster-duikhorlosie wat Daniel Craig gedra het, is vir £226 000 (R4,6 miljoen) verkoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.