Juffrou se plan om skoolskietery te voorkom

Argieffoto (Foto: KokomoCole, Pixabay)

Minstens 17 hoërskoolleerders van die Amerikaanse deelstaat Florida is vandeesmaand dood toe ʼn voormalige leerder glo met ʼn semi-outomatiese geweer in die gange van ʼn hoërskool losgebrand het. Een juffrou het egter ʼn plan om te poog om sulke tragedies te voorkom.

Glennon Doyle Melton, bekende outeur, vertel in haar rubriek op Reader’s Digest dat haar seun se onderwyseres elke Vrydag haar leerlinge vra om op ʼn papier aan te dui langs wie hulle die volgende week wil sit.

“Die kinders weet dat daar moontlik nie aan hierdie versoeke voldoen sal word nie. Sy vra die leerlinge ook om een ander skolier aan te dui wat die afgelope week uitgeblink het. Die briefies word dan privaat by haar ingedien.”

Volgens Melton bestudeer die onderwyseres dan elke Vrydagmiddag die briefies en soek na spesifieke patrone:
– Langs wie wil niemand ooit sit nie?
– Wie kan nooit aan enigiemand dink om te nomineer nie?
– Van wie word daar nie kennis geneem nie (en word dus nie genomineer nie)?
– Wie het verlede week talle maats gehad maar hierdie week niemand nie?

Melton verduidelik die juffrou is nie op soek na ʼn sitplekrooster of “uitsonderlike leerlinge” nie. “Sy is op soek na die eensame kinders. Sy is op soek na kinders wat sukkel om met ander kinders maats te maak. Sy wil kyk wie word nie raakgesien nie, en wie se gawes word nie opgemerk nie. En sy kan maklik sien wie word geboelie of wie is die boelie.

“Dis soos om vir goud te myn – waar die kinders die goud is wat klein bietjie hulp nodig het, wanneer volwassenes moet ingryp en hulle wys hoe om maats te maak, of hoe om iemand anders te vra om saam met jou te speel, of hoe om by ʼn groep aan te sluit of hul gawes te deel.”

Melton meen dit voorkom ook boeliegedrag, want elke onderwyser weet dat ʼn geboelie gewoonlik in die privaat plaasvind en kinders wat geboelie word, is gewoonlik te bang om enigiets te sê.

“Van wanneer af doen jy dit al?” wou Melton by die onderwyseres weet.

“Sedert Columbine. Elke Vrydagmiddag sedert Columbine.”

Die Columbine High School-slagting is ʼn skoolskietery wat op 20 April 1999 in Jefferson, Colorado in Amerika plaasgevind het. Buiten die skietery was daar tydens die beplande aanval ook ʼn bom om brandbestryders se aandag af te lei, 99 springstoftoestelle en motorbomme. Die oortreders, Eric Harris en Dylan Klebold, het 12 studente en een onderwyser se lewe geëis. Altesaam 24 persone is beseer. Die twee het hul eie lewe geneem tydens ʼn skietery met die polisie.

“Hierdie briljante vrou het Columbine sien gebeur en besef dat alle geweld met ʼn gebrek aan verhoudings begin. Geweld begin met eensaamheid. Wie is ons volgende massaskieters en hoe keer ons hulle? Sy het gesien dat kinders van wie daar nie kennis geneem word nie, moontlik eendag enigiets sal doen sodat daar wel van hulle kennis geneem word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Geneig om saam te stem ·

Ek is geneig om saam te stem met die juffrou se redenasie. Dis altyd vir my interessant om te sien wat jong mense sal doen vir ander se aandag en goedkeuring, maar dis baie hartseer dat kinders moet dood gaan voor skole so iets inbring. Ek het laas week ook ‘n berig gelees van ‘n Suid Afrikaanse skool, waar twee juffrouens ‘n boelie boks uitgedink het, waar kinders briefies kan los as hulle geboelie word. Die bogenoemde vrou het dalk al lewens gered met dit wat sy doen

Nicolaas ·

Briljant. En hoeveel skieterye het sy al voorkom? Wat ‘n lot nonsens! Het sy dannou die eensame kinders/ boelies ge-identifiseer en dan? Nee wat. Die onlangse skoolskieter was bekend voor die voorval en het gedreig om dit te doen. Die swak FBI en polisie in die VSA moet hul sokkies optrek!

Mike Kaapstad ·

uitstekend juffrou ons skool het n kind gehad wat n skool aan die brand gesteek het,
net om aandag te soek………………….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.