Rusland is besig om ʼn ruimtehotel te ontwikkel wat wanneer dit voltooi is, aan die internasionale ruimtestasie gekoppel sal word.
Indie jy belangstel, moet jy nou al begin spaar, want as dié superluukse hotel klaar is, gaan dit jou sowat $40 miljoen vir twee weke se verruklike sonsondergange en -opkomste kos. As jy dit graag buite die hotel wou waag, sal jy minstens vir ʼn maand lank moet gaan en $20 miljoen meer moet betaal.
By die prys ingesluit is toegang tot die ruimtestasie se uitkykpunt – solank die toeris net nie ’n oorlas van homself maak nie. Die slaapkamer van ’n suite is maar knap – 2 kubieke meter, maar die sitkamer is verbasend ruim. Toegang tot WiFi is vanselfsprekend. Die ruimtestasie se verbod op alkoholiese dranke geld ook die hotel.
Die hotel sal ongeveer 20 ton weeg en 15 meter lank wees. Die module sal vier slaapkwartiere hê, ʼn sitkamer en gimnasiumtoerusting. Die boukoste kan tot $446 miljoen (R5,6 miljard) beloop.
As alles volgens plan verloop, sal die hotel in 2022 sy deure oopmaak. Die Russiese ruimte-agentskap reken daar sal teen 2021 ongeveer 43 000 persone wêreldwyd wees met ʼn fortuin groot genoeg om só vakansie te beplan.
Die hotel sal egter nie vir altyd oop wees nie. Die internasionale ruimtestasie is geskeduleer om in 2028 toe te maak.
Richard Branson het ook planne om reisigers teen die einde van 2018 na die ruimte te neem en Elon Musk probeer ook intussen vliegtuie met vuurpyle vervang.