Konsert vir die koeie

ʼn Trop beeste staan nader terwyl Jacob Shaw (regs) en violis Roberta Verna vir hulle klassieke musiek speel in Stevns, Denemarke (15 Junie 2021) (Foto: Jonathan Nackstrand/AFP)

ʼn Tjellis in Denemarke het vir ʼn ongewone gehoor begin speel toe hy tydens die Covid-19-pandemie nie enige uitvoerings kon reël nie. Die ervaring was egter só spesiaal dat hy nou voortgaan selfs nadat konsertsale in die land weer oopgemaak het.

“Om vir koeie te speel is ʼn voortsetting van dit wat ek nog altyd in my sololoopbaan gedoen het: ek is passievol oor klassieke musiek buite die konsertsaal,” het Jacob Shaw aan AFP gesê.

Die Britse musikant, ook ʼn professor aan die Marshall Academy in Barcelona, het met ʼn tjelloskool in die platteland in Stevns, sowat ʼn uur suid van Kopenhagen in Denemarke begin. Hulle hou oral in die streek uitvoerings.

“Tydens die pandemie was dit natuurlik nie altyd moontlik nie en ons het besluit om na die volgende beste ding aan te beweeg: om vir diere te speel,” het die 30-jarige Shaw gesê.

Tydens herfs het hy ʼn boer, met ʼn passie vir musiek, oorreed om sy beeste aan klassieke musiek bloot te stel om hul welstand te bevorder.

“Toe hy my daarvan vertel het ek nie gedink dis mal nie; ek het gedink dis opwindend,” het die boer, Mogens Haugaard, gesê. “Ek voel die kalmerende impak op my eie liggaam, so ek het gedink dit kan dieselfde wees vir koeie. En ek was reg.”

Tjellis Jacob Shaw (regs) en violis Roberta Verna in Stevns, Denemarke (15 Junie 2021) (foto: Jonathan Nackstrand/AFP)

Die beeste is aanvanklik aan die klassieke repertoire blootgestel deur luidsprekers wat in die winter in hul skuur opgestel is, en dit het gou geblyk dat die beeste daarvan hou.

“Almal kon van die eerste keer sien dat hulle daarvan hou, so ons het daarmee aangehou. Nou is hulle al hoe meer gewoond daaraan en die gevolg is dat hulle wonderbaarlik gesonde en vriendelike diere is,” het die tjellis gesê.

“Hulle is beslis meer kalm en ontspanne. Dis makliker om hulle te nader,” het Haugaard bygevoeg.

Die beeste het selfs hul eie musiekvoorkeure, voer Shaw aan. “Hulle reageer anders op verskillende stukke. As ons iets speel wat bietjie meer modern is, dan hou baie van hulle nie daarvan nie en hulle stap weg. Stukke wat soos hul stemme klink – soos wat hulle bulk, en soortgelyk is aan die klank van ʼn tjello, is baie gewild.”

Alhoewel hy soms alleen vir die beeste speel, sluit een of twee musikante soms by hom aan. Shaw verduidelik wanneer mens in die opelug speel vir ʼn gehoor wat nie streng veroordelend is nie, help dit kunstenaars om nie so gespanne te wees tydens ʼn uitvoering nie. “As [musikante] kans kry om voor beeste te speel, laat dit hulle toe om te ontspan en meer te geniet wat hulle doen.”

Roberta Verna, ʼn 22-jarige violis, het na Stevns gekom “om ʼn ander perspektief op dinge te kry”. Met haar Stradivarius speel sy saam met Shaw stukke deur Reinhold Gliere en Bela Bartok vir die beeste wat skynbaar net so geroer word deur die melodie as wanneer hulle wei.

“Dis baie interessant, want hulle luister regtig,” sê Verna. “Hulle respekteer ons.”

Aan die einde van die vyftien minuut lange konsert, die tweede uitvoering vir die dag vir die beeste, wei hulle rustig verder en wag vir die volgende konsert.

“Ek dink dit gaan baie interessant wees om die impak oor die volgende paar jaar dop te hou,” het Shaw bygevoeg, wat nie enige planne het om op te hou om vir die beeste te speel nie. “Hul kinders en hul kinders se kinders gaan grootword met klassieke musiek. Die normale ding vir ʼn koei in dié kamp is om na musiek te luister.”

Klik hier om ‘n video te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Frieda

Ek dink dis fantasties om vir die beeste te speel dit kan hulle net goed doen.

Logies

Wonder ek… Betaal hulle in Euro , Botter of Melk?