Liedjieskrywer red koei se lewe

Diane Warren (Foto: Diane Warren/Facebook)

ʼn Koei wat vermis is ná sy en 40 ander uit ʼn slaghuis in Los Angeles in die VSA ontsnap het, is Donderdag gevind. Anders as haar ander mede-voortvlugtiges, sal haar lewe gespaar word danksy ʼn bekende liedjieskrywer se ingryping.

Die beeste het amok gemaak toe hulle Dinsdagaand in die strate van Pico Rivera, ʼn residensiële gebied in die stad, rondgedwaal het. Hulle het rondgestap en inwoners se gras gevreet.

Beamptes van die sheriff se kantoor en lede van die polisie se berede eenheid het ure lank gesukkel om die beeste weer aan te keer sodat hulle op sleepwaens gelaai kan word vir die tog terug slaghuis toe. Die beamptes het die beeste in ʼn stadium in ʼn doodloopstraat vasgekeer, maar die trop het weer laat spaander toe beamptes hulle wou aankeer.

Die beeste het uit die vleisverpakkingsaanleg ontsnap deur ʼn hek wat oop gelaat is. Die polisie het een doodgeskiet wat op ʼn gesin met kinders afgestorm het, maar uiteindelik is 38 aangekeer vir hul lot.

Een van die koeie was egter steeds op vrye voet en is eers Donderdagoggend omstreeks 04:00 gevind waar sy in ʼn veld staan en wei het – ʼn paar myl van die slaghuis af.

Aggie, ‘n jerseykoei wat vroeër ook van ‘n slaghuis gered is, bly by Farm Sanctuary (Foto: Farm Sanctuary/Twitter)

ʼn Munisipale beampte het gesê die koei sal na ʼn diereskuiling gestuur word eerder as die slaghuis, danksy Diane Warren, ʼn liedjieskrywer van Kalifornië, wat al ʼn Grammy, ʼn Emmy en twee Golden Globe-toekennings gewen het vir haar musiek vir trefferflieks. Sy is ook al 12 keer vir ʼn Oscar-toekenning benoem. “Dis nie die eerste koei wat ek red nie. Ek voel hierdie is ʼn spesiale koei,” sê Warren, wat al jare lank ʼn vegetariër is. “Dis asof sy alle beeste verteenwoordig wat vry wil wees,” hy sy aan Billboard gesê.

Warren het met die eienaar van die slaghuis en Pico Rivera-stadsbestuurder Steve Carmona onderhandel om die koei vry te laat.

Warren het verbintenisse met ʼn diereskuiling en kon reël dat die koei na die Farm Sanctuary, noord van Los Angeles, gestuur word.

Inwoners van Pico Rivera is in gesprek met die eienaars van die slaghuis oor die moontlikheid dat al die ontsnaptes eerder na skuilings gestuur moet word.

Warren het al treffers vir onder andere Celine Dion, Whitney Houston, Belinda Carlisle, Britney Spears, Christina Aguilera, Beyoncé, Elton John, Cher, Tina Turner, Bryan Adams, Barbra Streisand, Aretha Franklin, Roy Orbison, Michael Bolton, Rod Stewart, Lady Gaga en talle ander geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sandra ·

Ek is bly daar is mense wat na koeie se welstand omsien. Mens sal dink dat die polisie beter dinge het om te doen met hulle tyd as om koeie in die strate rond te jaag. Misdaadsyfers is seker laag in daardie gebied, nou moet hulle hulself maar besig hou. Diane Warren jy is ‘n engelkind om jouself te ontferm oor die koeie en hulle ‘n beter lewe gee. Ek hoop hulle laat al 38 koeie gaan. Wat my die meeste verbaas is die feit dat hulle ‘n koei geskiet het wat op ‘n familie afgestorm het??? Klink nie soos iets wat ‘n koei sal doen nie. Miskien het sy na hulle gehardloop om hulp te kry. Vreemd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.