Liefde laat Japannese prinses haar status opgee

Japannese prinses Mako en haar verloofde, Kei Komuro (Foto: AP Photo/Shizuo Kambayashi, Pool)

Prinses Mako, die oudste kleinkind van die Japannese keiser Akihito, sal haar status as prinses kwyt wees wanneer sy en ʼn voormalige klasmaat trou.

Die aankondiging is uitgesaai deur die openbare uitsaaier NHK.

Mako is een van slegs vier koninklike kleinkinders. Die ander drie is haar jonger sussie, Kako, haar boetie Hisahito en kroonprins Naruhito se dogter, Aiko.

Die krimpende koninklike familie, wat ʼn spieëlbeeld is van die breër Japannese samelewing, het besware aangeroer dat die prins ook die laaste sal wees. Die 10-jarige Hisahito is een van vier opvolgers tot die troon ná Akihito se twee middeljarige seuns, wie se vroue reeds in hul 50’s is, en Akihito se 80-jarige broer, Masahito.

Japannese wetgewers het in Junie ʼn wetsontwerp goedgekeur wat Akihito toelaat om uit sy amp te tree, die eerste persoon om te abdikeer uit die Japannese monarg sedert 1817. Die keiser het verlede jaar, tydens ʼn seldsame openbare verskyning, gesê hy is besorg dat sy ouderdom hom nie in staat sal stel om sy pligte te vervul nie. Die 83-jarige het ʼn hartoperasie ondergaan en is al vir prostaatkanker behandel.

Die wetsontwerp is slegs van toepassing op Akihito en nie toekomstige keisers nie. Daar word geen verwysing gemaak na die omstrede onderwerp of die wet, dat slegs mans die troon mag opvolg, gewysig sal word óf dat vroue in die koninklike familie mag bly nadat hulle getrou het nie. Die konserwatiewe deel van die bevolking is besorg dat dit die eerste stap sal wees dat dogters die amp kan inneem.

Mako se verloofde, Kei Komuro, werk in ʼn regskantoor in Tokyo. Mako en Komuro het aan ʼn internasionale Christelike universiteit studeer. Sy het ʼn meestersgraad van die University of Leicester en werk intussen as ʼn navorser by ʼn museum. Komuro het in ʼn stadium as ʼn “prins van die see” gedien toe hy toerisme naby Tokyo bevorder het.

-Reuters

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.