ʼn Man wat met longkanker gediagnoseer is, het die goeie nuus gekry dat die “gewas” eintlik ʼn speelding is wat hy 40 jaar gelede ingeasem het.
Paul Baxter (50) van Engeland, wat vir die poskantoor werk, was jare lank ʼn roker. Hy was langer as ʼn jaar siek en het bly hoes. Hy is reeds vir longontsteking behandel, maar dokters het nou die ergste vermoed: ʼn ondersoek het ʼn geheimsinnige massa in een van sy longe aangedui, vermoedelik ʼn gewas.
Tydens ʼn diagnostiese prosedure het dokters in Engeland, wat die geval ook in die Britse mediese joernaal BMJ Case Reports aangeteken het, ʼn “mosterdkleurige vreemde voorwerp” in sy long ontdek.
Baxter het aan BBC Breakfast gesê die dokters kon die voorwerp uit sy long verwyder – dit was nie ʼn gewas nie. Dit was toe eintlik ʼn klein speelgoed verkeerskegel van ʼn Playmobil-stelletjie wat Baxter 40 jaar gelede ingeasem het.
“Almal het begin lag,” het Baxter aan BBC News gesê.
In die verslag, wat verlede week gepubliseer is, het die dokters geskryf die speelding is tydens ʼn brongoskopie ontdek, ʼn prosedure waartydens dokters ʼn klein kamera in die lugweg plaas. Dit is die eerste keer, aldus die verslag, dat ʼn geval aangemeld is waar ʼn vreemde voorwerp vir só lank in iemand se lugweg vasgekeer was.
Die pasiënt het later aan die dokters gesê hy onthou dat hy vir sy sewende verjaarsdag ʼn Playmobil-stelletjie ontvang het. “Maar ek kan nie onthou dat ek dit geëet het nie!” het hy aan BBC News gesê. “Ek moes dit duidelik in my mond gehad het. En soos die dokter verduidelik het, het ek dit ingeasem, want as ek dit ingesluk het, het dit in ʼn ander pyp beland. Maar ek het dit ingeasem, en dit het in my longe beland.”
Die gehoes het opgehou net nadat dokters die verkeerskegeltjie verwyder het.
ingeasem??