Luislang wurg man byna tydens selfie

Skermgreep uit die video

Besorgde inwoners in Jalpqiguri, ʼn stad in die noordooste van Indië, moes ʼn plaaslike wildbewaarder ontbied nadat ʼn luislang baie naby ʼn skool opgemerk is.

Sanjay Dutta, die wildbewaarder, het die vyf en ‘n half meter lange slang met ʼn paal gevang en toe dik handskoene gebruik om die slang se kop te gryp en die reptiel op te tel.

Al wat Dutta daarna moes doen, was om dit in ʼn sak te plaas om dit te vervoer en daarna in die natuur vry te laat waar dit nie ʼn bedreiging vir die inwoners sou wees nie.

Hy het egter besluit om die slang om sy nek te drapeer vir ʼn selfie.

Inwoners het hul selfone omhoog gehou om die gebeurtenis te fotografeer en omstanders het ook nadergestaan om seker te maak hulle verskyn ook op die foto’s.

Die slang het egter begin poog om homself om die man se nek te draai. Dutta het die slang se kop en stert van mekaar probeer weghou terwyl hy laggend vir die foto’s poseer het. Oomblikke later was hy egter duidelik beangs. Die slang het heeltemal om sy nek gedraai en kon ook sy stert losruk.

Inwoners, wat eers saam op die foto wou verskyn, het vinnig eenkant toe gestaan.

“Dis oukei,” het Dutta geskree. “Dis alles oukei.”

Die luislang het al hoe stywer om sy nek gedraai toe hy van die skare wegbeweeg het. Dutta het egter kalm gebly en nie paniekerig geword nie – dit sou die slang selfs meer aggressief gemaak het. “Ek was nie vir een oomblik bang nie,” het Dutta aan Agence France-Presse gesê. “As ek paniekerig geword het, sou dit noodlottig gewees het.”

Dutta kon, met behulp van omstanders, homself uiteindelik bevry.

Aan die einde van die video stap hy weg – ʼn bietjie bewerig, maar hy haal steeds asem.

Annie Gowen, van die Washington Post, het berig byna die helfte van selfie-verwante sterftes in Indië is as gevolg van gebruikers wat die gevare om hulle ignoreer ter wille van “die perfekte skoot”. “Indiërs is al dood toe hulle selfies geneem het voor ʼn aankomende trein, ʼn boot wat tydens ʼn piekniek omgeslaan het en ʼn afgrond wat skielik ineengestort het. ʼn Japannese toeris is in September oorlede toe hy voor die Taj Mahal ʼn selfie wou neem. Hy het egter by die trappe afgeval en noodlottige kopbeserings opgedoen.”

Die luislang is ná die voorval vrygelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Theresa ·

Noue ontkoming! Vreeslike sterk en lang slang – simpel om lewe te waag vir ‘n foto.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.