Luister: Gorillas ‘sing’ as hulle eet, wys navorsing

Foto: Pixabay, Skeeze

Foto: Pixabay, Skeeze

Die mens en gorillas deel nie net bykans 98% identiese genetika nie. Nuwe navorsing toon ook dat dié diere hul tevredenheid met maaltye uitdruk deur te neurie en selfs te sing wanneer hulle eet.

Dié navorsing deur die Duitse wetenskaplike Brian Owens, wat in Februarie vanjaar in die tydskrif New Scientist gepubliseer is, dui daarop dat gorillas, nes mense, die kos wat hul eet geniet en nie bloot eet om te oorleef nie.

Owens het ook in die navorsingsartikel aangedui dat die gorillas, gewoonlik die hoof van die familie, ook neurie om die ander in te lig dat dit etenstyd is.

Dié sogenaamde voedselverwante-roepe is voorheen ook al opgemerk in sjimpansees en bonobo’s.

Eva Luef, ʼn mede-navorser by die Max Planck-instituut vir ornitologie in Seewiesen, Duitsland, het gesê dié gevolgtrekking is gemaak nadat die navorsers twee groepe wilde gorillas in die Republiek van die Kongo dopgehou het.

Die navorsers het bevind dat die gorillas twee soorte klanke maak wanneer hulle eet. Die een was ʼn bestendige laefrekwensie-klank wat klink soos ʼn “sug van tevredenheid”.  Die ander was ʼn harder klank om ander gorillas nader te roep.

Owens het ook gesê die gedrag van die gorillas verskil wanneer hulle in aanhouding is: “In dieretuine sing die meeste van die gorillas wanneer hulle eet, maar in die natuur is dit meestal net die dominante mannetjies wat die klanke maak.”

Luister na die twee soorte klanke:

Bron: New Scientist

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.