Luister: Só klink die ruimte

Het jy al ooit gewonder hoe die ruimte klink? Die raaisel is opgelos! Nasa het uiteindelik die antwoord.

Alhoewel klankgolwe nie deur die vakuum van die ruimte kan beweeg nie, sê Nasa dit kan baie raserig raak in die ruimte onder die regte omstandighede. Die warm gas rondom ʼn swartgat in die middel van die Perseus-sterrestelsel kan byvoorbeeld geraas maak.

Nasa het ʼn klankgreep vrygestel van klank in die ruimte en dit klink soos die klankbaan van ʼn onheilspellende fliek.

“Die wanopvatting dat daar nie enige klank in die ruimte is nie, spruit uit die feit dat die ruimte hoofsaaklik ʼn vakuum is, en klankgolwe kan dus nie daarin beweeg nie,” het Nasa op Twitter geskryf.

“ʼn Sterrestelselswerm het egter soveel gas dat ons wel klank kon optel. Dit is hier versterk en met ander data gemeng sodat mens kan hoor hoe ʼn swartgat klink!”

Die Perseus-sterrestelsel is sowat 250 miljoen ligjaar van die Aarde en die klankgreep verteenwoordig klankgolwe wat deur die gas en plasma in dié sterrestelselswerm beweeg.

Alhoewel die seine wat van die swartgat kom reeds in 2003 gesien is deur Nasa se Chandra X-straal-sterrewag, is dit nog nooit vantevore in die klankreeks van die menslike oor geprosesseer nie.

“Op ʼn manier is die klankskepping anders as enigiets wat tevore gedoen is, want dit gebruik weer die oorspronklike klankgolwe uit die data van Nasa se Chandra-sterrewag,” het Nasa in ʼn verklaring gesê. “Met hierdie klankverwerking van Perseus is die klankgolwe, wat sterrekundiges vroeër geïdentifiseer het, onttrek en vir die eerste keer hoorbaar gemaak.”

Die swartgat is ʼn bariton, want die klankgolwe (in hul natuurlike omgewing) is 57 oktawe laer as middel C.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.