Lulu die ‘speurhond’ gepos oor ‘gebrek aan belangstelling’

Lulu die Labrador (Foto: AP via CIA)

Die Amerikaanse Intelligensiediens (CIA) het ʼn eens belowende labrador gepos nadat sy glo nie haar opleiding vir ʼn “loopbaan” in die intelligensiediens met die nodige erns benader het nie.

Die CIA het in ʼn blog-inskrywing gesê Lulu, die jong labrador, was aan die begin van dié diens se opleidingsjaar een van hul belowendste speurhonde. Lulu was deel van ʼn groep honde wat die CIA vanjaar begin oplei het om saam met lede van die intelligensiediens te werk op ʼn groot verskeidenheid sake, waaronder moord en terreur.

Volgens die inskrywing het Lulu egter ná ʼn paar maande “geen belangstelling meer getoon om plofbare middels uit te snuffel” nie.

“Daar kan ʼn miljoen redes wees waarom ʼn spesifieke hond nie meer in sy of haar takies uitblink nie. Die opleidingsbeamptes word dan ‘honde-sielkundiges’ om te probeer uitpluis wat aangaan en wat die hond sal help om weer op sy opleiding te fokus,” lui die inskrywing.

“Partykeer is die hond verveeld en kort hy of sy net meer speeltyd of selfs meer uitdagings. Soms kort die hond ʼn blaaskans en ons het selfs al beleef dat dit iets soos ʼn kosallergie kan wees. Die opleidingsbeamptes slaag egter elke keer daarin om die hond weer gefokus te kry. Vir Lulu was die kwessie egter nie tydelik nie. Vir sommige honde is dit bloot nie waarvoor hulle bestem is nie. Sy het nie meer belang gestel nie en sy het haarself net nie meer geniet nie.”

Die CIA het besluit om Lulu liewer nié verder as ʼn speurhond op te lei nie. Sy is deur haar hanteerder aangeneem en woon nou saam met hom en haar nuwe boetie, die labrador Harry, waar sy haar tyd verwyl deur “hase en eekhorings in die tuin uit te snuffel”.

Bron: The Telegraph

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pragtig ·

Ek sal ook nie van so ‘n werk hou nie. Geniet jou hondelewe terdee

Denise ·

Lulu is moeg en wil nou aftree dit was seker genoeg vir haar!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.