Ma gekap wat sewejarige laat ‘huur’ betaal

Felicia Farley (Foto: TikTok)

ʼn Ma het haarself kritiek op die hals gehaal van ander ouers toe sy onthul het dat sy haar sewejarige dogter laat huur betaal en dat sy ʼn rits huistakies moet verrig.

Felicia Farley betaal haar jong dogter elke week ʼn klein bedrag en ʼn sekere deel moet sy aan haar ma terugbetaal vir haar “huur” en lewenskoste.

Farley het op die sosialemediawebwerf TikTok gespog dat sy die beste ouerskap-truuk het “om kinders die waarde van geld te leer”.

“My dogter het elke week ʼn rits huistakies. As die takies daagliks afgehandel word, ontvang sy aan die einde van die week $7 (sowat R104),” verduidelik sy. “Sy betaal uiteindelik $5 (sowat R75) vir rekeninge en die orige $2 (byna R30) kan sy vir haar self hou om te spaar of te spandeer.”

Dit was ook die lys van “ouderdom-gepaste takies” wat ander ouers sprakeloos gelaat het. Die lys sluit in dat haar dogter die toilet moet skoonmaak en sê dat driejariges die wasgoedmandjie behoort te kan volmaak.

Farley sê haar dogter leer om ʼn bydrae te maak tot huishoudelike uitgawes soos kos, water, elektrisiteit en huur.

Die Amerikaanse ma se idee was egter baie omstrede vir ander ouers wat meen kinders moenie gedwing word om te leer en sulke take op só jong ouderdom doen nie.

“Ek het nie hierdie goed gedoen selfs toe ek 12 was nie!” het een geskryf. “Sy is nie ʼn volwassene nie – sy is jou kind. Betaal jou eie rekeninge!” het ʼn ander bygevoeg. “Wat gebeur as sy nie die takies verrig nie. Gee jy dan nie vir haar kos nie?” wou ʼn derde weet.

Farley het gesê haar dogter sal nooit sonder kos wees nie en die geld wat sy by haar dogter kry word eintlik in ʼn spaarrekening gedeponeer.

“Natuurlik sal ek nie kos of enigiets anders van haar weerhou nie. Die geld word in ʼn spaarrekening gedeponeer en sy sal toegang kry daartoe wanneer sy 18 is. Só gaan sy leer dat sy al daardie geld self gemaak het. Dit gaan nie oor die rekeninge nie. Ek probeer vir haar ʼn fondasie gee wat ek nooit gehad het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Natasha

As kind moes ek ook takies verrig om sakgeld te kry wat ek kon spaar vir vakansie tye of spandeer soos ek goed dink. My sakgeld was nou nie so baie soos die meisie s’n nie, maar ek is seker as my ma huur sou vra dat sy my sakgeld sou verhoog het. Dit leer kinder verantwoordelikheid en selfstandigheid aan.

Misky

Ek sien geen fout daarin nie. Wasgoedmandjie volmaak is nou nie juis so erg nie. Sy leer goeie beginsels en verwag nie dat sy alles net KRY soos in sekere kulture nie. En dis steeds haar eie geld indirek wat na haar terug gaan. My seuns ook van kleintyd geleer hul eie kamer opruim en vandag is hulle netjies en help graag in die huis.

MakersMark

Goeie ouerskap. Leer die kind waardes. Meeste kinders ken net die waarde van aardse goed en hoe hoër hoe beter.

Botterblommetjie

Hierdie ma verdien in die tyd, waar die kinders nie meer na die ouers luister nie, maar die ouers na die kinders, ‘n medalje.!! Ons het met dissipline, waardes en respek grootgeword. Klein huistakies (en grotes) was deel van ons grootword – Ek praat nie van die bedorwe brokke waar die huisskoonmaakster ens. tot van die kinders se skoene moes pollitoer nie – Ek praat van waar die kinders hulle eie beddens opmaak en leer help in kombuis, skottelgoed was ens. Tot in tuin help. Dit leer hulle nie net vaardighede en verbeter hulle matoriese ontwikkeling nie, maar ook dissipline… Lees meer »

Jack Russ1

Dit wys nou maar net hoekom daar soveel probleme met die kinders is, hulle leer nie meer die waarde van iets nie. Sodra iemand hulle dan leer om iets te waardeer, dan word hulle sleggesê.

Welgedaan, hou so aan en hopenlik kan ander by jou ook leer