Ma se streng reëls vir selfoongebruik

Argieffoto (Foto: filmbetrachterin/Pixabay)

Dis byna onafwendbaar dat jou kind graag ʼn selfoon wil hê – die voordele wat dit inhou om kommunikasie te vergemaklik is welbekend, maar talle ouers is net so besorg oor die nadele en gevare wat selfoonkommunikasie kan inhou (soos boelies en ʼn ongesonde afhanklikheid aan sosiale media).

Mel Watts is ʼn ma van vier van New South Wales in Australië en het onlangs op haar blog, The Modern Mumma, ʼn lys reëls gepubliseer wat ander ouers kan gebruik as riglyne vir hul eie kinders se selfoongebruik.

Mel het dié maatreëls in ʼn ooreenkoms vervat om met haar 12-jarige seun aan te gaan nadat hy sy eerste selfoon gekry het.

“Voor ons vir Ayden sy selfoon gegee het, het ons ʼn ooreenkoms met hom aangegaan en alle partye moes dit onderteken,” verduidelik sy. Volgens haar bied dié stukkie papier aan hulle as ouers die vermoë om te monitor wat hy met sy selfoon doen.

Argieffoto (Foto: JESHOOTS-com/Pixabay)

Sy voeg by dit is baie belangrik om jou kind te vertrou, maar “vertrou jou instink”. “As jy dink iets is fout, deursoek jou kind se selfoon. Kinders steek gereeld iets weg van hulle ouers omdat hulle bang is hulle gaan in die moeilikheid kom of hulle is skaam oor iets.”

Mel sê dit is ook belangrik om nie toe te laat dat jou kind op sosiale media van jou wegkruip nie. “As hulle wegkruip, is hulle besig met iets wat hulle nie mag doen nie – vertrou my.”

Hier is die kontrak wat hulle vir Ayden opgestel het en jy kan dit hier aflaai as jy dit self wil gebruik:

ʼn Slimfoon is ʼn verantwoordelikheid wat jy moet verdien om te kan gebruik. Hierdie slimfoon behoort aan ons en jy leen dit. Die selfoonnommer en die data behoort aan jou. As jy tot hierdie bepalings en voorwaardes instem, dan verstaan jy dat die foon enige tyd uit jou hande verwyder kan word en dit kan deursoek word. ʼn Assessering van die bepalings en voorwaardes kan gedoen word.

  1. As jou foon wegraak of breek, moet jy dit met jou eie geld vervang of laat regmaak. Ons het vir jou die beste skermbeskermer en omhulsel gekoop. As dit te enige tyd verwyder word en die selfoon breek, moet jy die hele selfoon vervang.
  2. Antwoord altyd wanneer ʼn ouer jou bel. As jy nie kan antwoord nie, stuur vir ons ʼn boodskap. As jy nie vir ons ʼn boodskap kan stuur nie, bel ons terug sodra jy kan. As jy geen kontak maak nie, sal ons na jou begin soek.
  3. As jy jou data opgebruik, sal jy nie ekstra data kry tot jou volgende 30 dae-data-siklus nie. Ek het ʼn app geïnstalleer sodat jy kan sien hoeveel data jy beskikbaar het en wanneer jou huidige data-siklus verstryk. As jy nog krediete wil aankoop, moet jy takies verrig. Jy sal nie krediete ontvang as jy dit nie verdien het nie. Gebruik dit verstandig.
  4. Geen selfone in kamers nie.
  5. Selfone word aan ʼn ouer oorhandig voor jy gaan slaap.
  6. Skermtyd geld. Jy mag nie voor 07:30 ʼn boodskap aan iemand stuur nie.
  7. Jy moet die skool se reëls en riglyne rondom selfoongebruik nakom.
  8. Jy mag nie foto’s of video’s neem van mense wat nie daarvan bewus is nie. Dit sluit vreemdelinge in. Veral nie as iemand jou vra om nie ʼn foto te neem nie.
  9. Jy mag nie enigiets op sosiale media deel wat jy nie graag van jouself of jou sussies op sosiale media wil sien nie. Of iets wat jy nie wil hê jou ma of ouma moet sien nie.
  10. Moenie iemand op sosiale media teister nie. As jy nie iets vir iemand in die regte lewe kan sê nie, moet jy dit nie skryf nie.
  11. Wagwoorde en rekeningname – dit moet te alle tye toeganklik wees, ongeag wat jy daarvan dink. As jy die wagwoord sonder ons medewete verander, verwyder ons jou selfoon.
  12. As jy doelbewus iets op jou selfoon verwyder of wegsteek (insluitend sosiale media en e-posse), sal alle rekeninge opgeskort word.
  13. Onthou wat jy sê of skryf. Dit wat jy skryf kan heeltemal anders geïnterpreteer word deur iemand wat dit lees.
  14. Dit wat jy op sosiale media publiseer is vir altyd daar. Dis daar vir almal om te sien.
  15. As jy geboelie word, wys ons. Moenie dit wegsteek nie.
  16. Verstaan dat jou SIM-kaart en die gebruik van ons selfoon ʼn baie groot voorreg is. Dit is nie iets wat jy nodig het nie, so dit is nie ʼn reg nie.
  17. Enige geweld of kwessies wat daartoe sal lei dat ons jou nie meer kan vertrou nie, sal daartoe lei dat jy jou selfoon verloor.

Hierdie kontrak sal gewysig word sodra jy 15 jaar oud is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Dee ·

Ons kort meer sulke ouers. Dis sal die lewe van almal wat met kinders werk soveel makliker maak.

Dee ·

Ons kort meer sulke ouers. Dit sal die lewe van almal wat met kinders werk soveel makliker maak.

Wenner ·

Dit verskriklike oulike reels, en leer die kind om respek aan ander, sy familie en die omgewing te betoon

Clem ·

Dis ouers wat ‘n diep respek toon nie net teenoor hulle kinders nie maar ook met wie hulle kinders omgaan. Ek salueer u!

Maryna ·

Ons het die helfte van daai reëls in ons plek. En dit werk. Kinders weet reëls kom eerste.

Chantel ·

Noem my oudtyds maar my kinders sal nie n selfoon kry voor hulle hoërskool toe gaan nie. En dan ook net n foon wat kan bel en sms.

Stem ·

Ek stem 100% saam jou. Noem my wat jy wil. As hulle ouer is sal hulle dankie sê. Ek was in my 3e jaar toe ek ‘n selfoon gekry het. Was enigste persoon in koshuis omtrent wat telefoon hokkie gebruik het. Maar eks vandag dankbaar teenoor my ma. Ek het dit oorleef en so sal my kinders dit ook oorleef.

Tiger ·

100% Chantel.GEEN slimfoon aan ‘n skoolgaande kind nie.Whatsapp kan te maklik verkeerd gebruik word deur ‘n kind.Solank die foon kan bel en sms en oproepe ontvang is daar mos kommunikasie tussen ouer en kind en DIS wat die belangrikste is.

Gerda ·

Hierdie ma is haar sout werd. Ek wens meer ouers wil genoeg omgee….

Schalk ·

Pragtig! Het iemand dalk sulke mooi reels vir die Werksplek. Party mense het darem geen etiket as dit by die Werksplek kom nie. Tot whatsapp groepies met nommers vir toesighouers waarmee hulle mekaar waarsku. So kodetaal – 1 = hier kom die baas , 2 pasop = Veiligheidsoffisier ens ens.

E.K. die eerste ·

Sommige grootmense kan ook vir hulself die reels toepas, veral mbt reels no 9, 10, 13 en 14!

Jo ·

Nee wat, my kids word met tegnologie groot, sal hul help waar ek kan, hul respekteer ons reels, en ek hanteer hulle met respek, nog geen probleme nie.

Anita ·

Bly om te sien dat iemand hierso darem kop hou. Stem saam dat kinders vertrou moet kan word met sulke goed. As hulle nie kan vertrou word nie was hulle opvoeding maar seker ietwat gebrekkig. Groete.

Chris Ws ·

Jo ,wag maar . . . . . . ek was self ‘n kind ‘n hele paar dekades gelede!Ek se solank sterkte!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.