‘Maatjie-banke’ die antwoord vir eensame kinders

Sammie Vance (Foto: Heidi Vance, Facebook)

Vir sommige kinders (en selfs talle volwassenes) is dit baie moeilik om maats te maak.

Die negejarige Sammie Vance van Fort Wayne, Indiana, het ʼn slim plan beraam om dié probleem op te los! Sy het boonop ook ʼn kreatiewe manier gekry om haar projek te finansier en dit is nou ʼn veilige plek vir enige kind indien hulle maats wil maak.

Alhoewel die idee rondom “Buddy Benches” nie nuut is nie, is dit steeds nie by talle skole beskikbaar nie.

Die idee rondom ʼn “maatjie-bank” is dat die banke op die speelgrond beskikbaar is en enigiemand wat eensaam voel, kan daarop gaan sit. Ander kinders kan dan sien dat daardie kind ʼn maat nodig het en hulle kan ook op die bank gaan sit. Dis ook ʼn veilige plek vir kinders teen boelies en onderwysers kan ook die bank dophou.

Heidi Vance, Sammie se ma, het aan Babble vertel haar dogter het van die idee te hore gekom toe sy tydens haar vakansie ʼn bybelskool bygewoon het. Sy het dadelik huis toe gekom en haar ma opgewonde van die idee vertel. Sammie het vir haar ma gesê sy sal graag ook só bankie by haar skool wil sien en die twee het planne begin beraam om seker te maak dat dit kan gebeur.

Vance het van ʼn maatskappy te hore gekom wat herwinde plastiekdoppies in banke kan verander en het gedink dis die perfekte manier om die projek te finansier. Boonop kos ʼn nuwe bank ongeveer $900 (R10 000) en ʼn herwindeplastiekbank slegs ongeveer $250 (byna R3 000).

Die twee het met die skoolhoof gesels en hy het die projek goedgekeur. Sammie het ʼn tekenprent gemaak wat die idee van die Buddy Bench verduidelik met ʼn video wat haar ma op Facebook gepubliseer het. Tesame met die skool se skoolbeheerliggaam, lede van die gemeenskap en drie berigte in gemeenskapskoerante, het hulle sommer vinnig meer as 700 kg se plastiekdoppies ingesamel!

Hulle het plastiekdoppies van oor Amerika ontvang en selfs van Afrika, Israel, Duitsland en Nederland soos persone van haar projek te hore gekom het. Hulle het ook “talle wonderlike briewe” gekry ter ondersteuning van die projek.

Hulle kon uiteindelik drie banke by Sammie se skool inrig en het genoeg doppies oorgehad om drie ander plaaslike skole te help wat ook hul eie vriendskapsbanke wou inrig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marietjie ·

Dis ‘n briljante idee! Hoop dit word binnekort ook in Suid-Afrikaanse skole gedoen!

Elize C ·

Ek hoop regtig net dat die bankies deur onderwysers dopgehou sal word, want kinders kan soms baie wreed wees, hierdie kan nou weer deur boelies uitgebuit word om ‘n kind wat op daardie bankie sit, van ‘n afstand of later in die klas te spot omdat hy nie maatjies het nie, en die problem net vererger. Ek weet ook nie of ‘n eensame kind so maklik op so bankie sal gaan sit nie, hy voel reeds minderwaardig omdat hy nie ‘n maatjie het wat nog ooit belanggestel het om hom beter te leer ken nie, nou moet hy nog op ‘n bankie gaan sit wat die feit duidelik uitbasuin: Kyk, hier sit ek, ek het nie maatjies nie…… Maar as dit kan werk soos dit bedoel is, sal dit wonderlik wees!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.