Man bou monument van liefde vir vrou, gemeenskap

(Foto: BBC, Die huis wat soos die Taj Mahal lyk, is oor drie jaar gebou)

’n 52-jarige Indiese sakeman het ’n afgeskaalde ewebeeld van die ikoniese Taj Mahal gebou as ’n tuiste vir hom en sy vrou met wie hy 27 jaar getroud is.

Anand Prakash Chouksey het ʼn “monument van liefde” in die stad Burhanpur in Madhya Pradesh gebou.

“Dit was ʼn geskenk aan my vrou, maar ook vir die dorp en sy mense,” het Chouksey aan BBC gesê.

Hy vertel dat die huis sowat 20 miljoen Indiese roepee (sowat R4 miljoen) gekos het om te bou.

Die Taj Mahal is ʼn mausoleum uit die 17de eeu, geleë in die stad Agra.

Dit is gebou deur Shah Jahan, keiser van Mughal, ter nagedagtenis aan sy koningin, Mumtaz Mahal, wat gesterf het terwyl sy geboorte aan hul 14de kind gegee het.

Die pragtige marmermonument, bekend vir sy besonder ingewikkelde traliewerk, is een van Indië se grootste toeristeaantreklikhede. Voor die pandemie het dit daagliks sowat 70 000 besoekers gelok – baie van hulle bekendes en hoogwaardigheidsbekleërs.

(Foto: Binnekant van die huis, BBC)

Chouksey se replika – wat diep in sy uitgestrekte eiendom van 50 hektaar geleë is en selfs ʼn hospitaal insluit, lok ook talle besoekers.

“Mense loop op ons grasperke rond en neem foto’s; baie mense het selfs begin om hul troufoto’s hier te neem,” vertel hy.

“Ek keer hulle nie, almal ken almal, ons is ʼn hegte gemeenskap, daarom is my huis oop vir ʼn ieder en elk.”

Chouksey sê wel dat hy nie altyd alle besoekers in die huis toelaat nie omdat dit immers die huis is waarin hulle woon, maar soms bederf die gesin die gaste wat hulle aan die huis se pragtige vertrekke – die ingewikkelde blommotiewe wat die marmermure en -vloere versier, asook die oorkoepelende tralievensters – kom verwonder.

Die huis bestaan ​​uit twee hoofslaapkamers wat op twee afsonderlike verdiepings geleë is. Dit het ook ʼn biblioteek en ʼn meditasie-kamer. Die voorkamer spog met marmerkolomme, ʼn geboë trap en ʼn vergulde plafon.

Alhoewel die Taj Mahal die inspirasie was, vertel Chouksey dat die huis nie streng Islamities in ontwerp is nie, maar ook kontemporêre invloede bevat wat duidelik in die keuse van banke en gordyne gesien kan word.

Die bou van die replika van die beroemde monument het drie jaar geneem, asook talle besoeke aan die oorspronklike Taj Mahal sodat Chouksey en sy vrou die verskeie aspekte van die mausoleum fyn kon bestudeer.

“Ons het ook baie 3D-beelde van die Taj Mahal op die internet gebruik om ons eie te bou.”

(Foto: BBC, Anand Prakash Chouksey het die huis vir sy vrou, Manjusha, gebou)

Die idee was om iets soortgelyks te bou; ingenieurs het dus die grootte tot een derde van die werklike monument verklein.

Chouksey is egter nie die eerste wat deur die skoonheid van die Taj Mahal geïnspireer is nie.

In 2013 het ʼn afgetrede staatsamptenaar van die Noord-Indiese deelstaat Uttar Pradesh ook ʼn nabootsing van die Taj Mahal ter nagedagtenis aan sy vrou gebou.

Chouksey sê egter dat die huis nie net vir sy vrou gebou is nie.

“Vandag is daar baie haat in ons land. Mense word veroordeel op grond van hul geloofoortuigings en kastestelsels.”

Eerste minister Narendra Modi se Hindoe-nasionalistiese BJP-regering is wyd daarvan beskuldig dat hy Indië volgens godsdienstige lyne polariseer en onverdraagsaamheid bevorder.

Selfs die Taj Mahal was in die spervuur: In 2017 het ʼn BJP-wetgewer die monument ʼn “skandvlek vir die Indiese kultuur” genoem wat deur “verraaiers” gebou is.

Chouksey sê hy wil liefde betoon in moeilike tye.

“Hierdie huis is vir my ʼn simbool van daardie liefde – een wat verder gaan as maatskaplike verskille en politieke geraas.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.