Man dobbel Covid-19-toelaag weg

Argieffoto (Foto: Aidan Howe/Pixabay)

ʼn Man van Japan wat per ongeluk 46,3 miljoen yen (sowat R5,7 miljoen) ontvang het as ʼn Covid-19-toelaag, is in hegtenis geneem ná hy die geld weggedobbel het.

Plaaslike owerhede het al hoe meer desperaat geword om hul geld terug te kry van die 24-jarige man. Hy het intussen laat weet hy sal die geld teruggee, “selfs al is dit net bietjie vir bietjie”.

Die flater deur owerhede in die afgeleë dorp Abu en die man se versuim om die geld terug te betaal, het groot opslae gemaak in Japan. Kletsprogramme bespreek selfs die ingewikkeldheid van sy finansiële situasie.

Die bedrag van 46,3 miljoen yen is verlede maand per ongeluk aan hom oorbetaal deur beamptes wat kontant-uitbetalings hanteer het vir lae-inkomste inwoners wat deur die pandemie geraak is.

Ná besoeke, oproepe en briewe tevergeefs aan die man gestuur is om die geld terug te betaal, het owerhede verlede maand met ʼn hofsaak begin in ʼn poging om die geld terug te kry.

Die man is nou in aanhouding ná hy in hegtenis geneem is op aanklag dat hy rekenaarbedrog gepleeg het, het ʼn beampte by die polisie in die Yamaguchi-streek in die weste van Japan aan AFP gesê.

Die man het aan die polisie gesê hy het die geld by aanlyn casino’s uitgegee. Hy het vermoedelik ook van die geld na ʼn ander bankrekening oorbetaal, selfs al het hy geweet dit was ʼn fout.

Norihiko Hanada, burgemeester van Abu, het Donderdag aan verslaggewers gesê die inhegtenisneming is “ʼn stap in die rigting van die waarheid”. “Ek glo nie dat hy alles gebruik het nie. Ek dink dit is baie moontlik dat daar nog iewers geld is.”

Sy personeel word deur oproepe en e-posse oorval van ontstoke inwoners, het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Di ·

Ja nee lyk my die skelms is nie net hier by ons nie! Dink net SA hou die rekord vir die grootste klomp korrupte spul bymekaar

Misky ·

Sjoe, gedink sulke flaters gebeur net hier by ons. Klink soos die onlangse Mani NSFAS student wat haar so dom gehou het.

Sarie ·

En vir die wat dink net in SA raak cvd fondse weg? Biljoene dollar het in Amerika net “verdwyn”. Niemand weet waar dit is. Maar dit is nie in ons nuus nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.