Man eet toe piesang-kunswerk van R1,7 miljoen

Maurizio Cattelan se kunswerk

ʼn Piesang wat met kleeflint teen ʼn muur vasgeplak is en as ʼn kunswerk vir $120 000 (ongeveer R1,7 miljoen) verkoop is, is Saterdag verorber.

Uitvoerende kunstenaar David Datuna het ʼn video van sy happie op Instagram gedeel met die byskrif “Hungry Artist”. Tydens die Art Basel Miami Show stap hy na die piesang toe, haal dit van die muur af, en verorber die kunswerk voor die ander besoekers wat hom stom aankyk.

“Ek is dol oor Maurizio Cattelan se kuns en ek hou baie van hierdie installasie. Dis heerlik,” het Datuna bygevoeg.

David Datuna verorber die kunswerk

Die betrokke piesang is deel van ʼn kunswerk deur Cattelan, ʼn Italiaanse kunstenaar wat veral bekend is vir ʼn goue toilet wat onlangs tydens ʼn uitstalling in Londen gesteel is.

Die kunsgalery Perrotin het Vrydag drie weergawes van die piesang-kunswerk verkoop vir minstens $120 000. Dit het groot omstredenheid in die kunsbedryf veroorsaak.

“[Datuna] het nie die kunswerk vernietig nie. Die piesang was die idee,” het Lucien Terras, direkteur van museumbetrekkinge aan die Miami Herald gesê.

Volgens hom het die kopers elkeen ʼn sertifikaat van egtheid gekoop wat hulle eienaarskap gee van die idee – die bedoeling is dat die piesang vervang moet word.

https://www.instagram.com/p/B5yIFp2hyE-/

Klik hier as die video nie direk in jou webblaaier wil speel nie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Thinus Erasmus ·

Ja en hoeveel piesangs kan daardie geld koop vir honger mense wat regtig dit nodig het? Belaglik ryk mense kan darem belaglike dinge doen!
Stinkryk met stink oordeel.

Rubber ·

Die verhaal loop verder. Iemand het toe op die muur geskryf: “Epstein didn’t kill himself”. Ek kan net sê dis ‘n sot wat dink die nonsens is kuns.

Alex ·

Ag nee! Nou mag ek nie meer ‘n piesang teen my sitkamermuur gaan plak nie. Die idee is verkoop en dit sal plagiaat wees. Miskien moet ek ‘n appel probeer. Dan het ek ook ‘n R1.7 miljoen kunswerk in die huis.

Sandy ·

Dis die simpelste ding wat ek nog ooit gehoor het. Ek gaan ook ‘n piesang op ons huis muur plak en dit verkoop vir R1.7 miljoen. Mense like geld mors op sulke stupid goed. Maar gaan vra hulle om geld te gee vir armes wat nie eens ‘n piesang kan bekostig nie, dan is hulle beursies styf toe.

Amelia ·

Ek dink jy slaan die spyker op die kop, John-Louis. Dis al logiese verklaring vir hoekom iemand soveel geld sal betaal vir ‘n piesang teen ‘n muur.

George ·

Nie meer vandag se kind nie en DANKIE TOG daarvoor, want ons het van waardes en goeie smaak geleer en kon duidelik die verskil sien tussen iets ordentliks of gemors!!!!

Snip ·

Kuns se voet. Enige ou kan `n piesang teen `n muur gaan vas pal met tape. Dis die simpelste storie wat ek nog ooit in my lewe gesien en van gelees het. Ek kan wragtig net my kop skud.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.