Man gee homself oor ná hy weddenskap met polisie verloor

Wanneer die polisie op soek is na ʼn verdagte met lasbriewe vir sy inhegtenisneming, vereis dit gewoonlik ʼn toegewyde poging van die beamptes en wenke van die gemeenskap om die persoon uiteindelik aan te keer.

ʼn Ongewone weddenskap in Redford, Michigan tussen ʼn verdagte en die polisie het egter vandeesmaand anders verloop.

Michael Martin Zaydel, wat gesoek is in verband met dronkbestuur en ander oortredings, het onverklaarbaar besluit om op Facebook met die polisie in die buurt in Detroit te kommunikeer en hulle uit te daag dat, indien hulle met hul volgende plasing meer as 1 000 persone kan kry wat die plasing deel, sal hy homself oorgee – met ʼn dosyn oliebolle. Hy het onder die alias Champagne Torino met die polisie kontak gemaak.

Beamptes het besluit om die weddenskap aan te gaan, en sy plasing gedeel met ʼn tong-in-die-kies aanmaning vir die publiek om die plasing te deel: “Oliebolle!!! Hy het oliebolle beloof! Julle weet hoe baie ons van oliebolle hou!”

Die polisie het binne ʼn uur meer as 1 000 persone gekry wat die plasing gedeel het. Minder as twee weke later, is die plasing reeds meer as 4 500 keer gedeel.

ʼn Uur en ʼn half later, het die polisie nóg ʼn plasing gedoen: “Ons weet nie of hy sy woord gestand sal doen nie.” Serse. Duane Gregg en Jennifer Mansfield het gesê dit is slegs “ʼn kwessie van tyd” voor hulle Zaydel in hegtenis sou neem. “Hy het nou baie aandag getrek, so dit gaan baie moeilik vir hom wees om weg te kruip.”

ʼn Week het verloop en daar was steeds geen teken van Zaydel nie. Die polisie het weer ʼn plakkaat met sy besonderhede versprei tesame met inligting oor waar hy moontlik kan wees (“moontlik ook oliebolrestaurante”, het hulle vol hoop bygevoeg).

Die onverwagse het Maandag gebeur.

“Michael Zaydel het vanaand om 18:30 sy woord gestand gedoen en homself oorgegee in verband met die lasbriewe vir sy inhegtenisneming,” het die polisie op Facebook laat weet. “Hy het self hier opgedaag, boonop met die oliebolle!”

Zaydel is intussen tot 39 dae tronkstraf gevonnis met ʼn moontlikheid van ʼn verdere 30 dae indien hy nie sy hofkoste kan dek nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.