Man ontvang meer as R600 000 om aartappelslaai te maak

Skermskoot van die Kickstarter-projek

Skermskoot van die Kickstarter-projek

Zack Danger Brown wou net ʼn aartappelslaai maak, en nou is hy reeds bykans R630 000 ryker.

Zack van Columbus in Ohio, Amerika, het grappenderwys ʼn projek op die skarefinansieringswebwerf Kickstarter gelaai en aangedui hy benodig $10 (net meer as R100) om ʼn lekker aartappelslaai te maak. Hy was nog nie seker watter tipe aartappelslaai hy gaan maak nie.

Vir persone wat meer as $1 sou skenk, het hy beloof dat hulle ʼn “dankie” op sy webwerf sal ontvang en hy sal die persoon se naam hardop sê as hy die slaai maak. Hy het egter vinnig die vereiste $10 ontvang, en toe aangedui indien hy $35 ontvang, hy vier keer soveel aartappelslaai sal maak. Teen $75 het hy ʼn pizza-partytjie voorgestel en teen $100 het hy aangedui hy sal twee verskillende aartappelslaairesepte probeer.

Teen Woensdagmiddag het Zack reeds meer as 4 700 persone wat hom ondersteun en meer as $58 800 om ʼn aartappelslaai mee te maak. Daar is nog 24 dae oor vir persone om by die projek aan te sluit en hulle deel by te dra.

Zack het intussen aangedui dat hy ʼn aartappelslaaipartytjie gaan hou, en enigiemand wat bereid is om na sy huis te vlieg, kan die partytjie bywoon.

Klik hier om sy Kickstarter-blad te besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.