Man soek twee wat hom in houtkrat help ontsnap

Brian Robson het in ‘n houtkrat per lugpos gereis om uit Australië te ontsnap. (Foto: Facebook)

Brian Robson, ʼn man van Cardiff in Wallis wat homself in 1965 in ʼn houtkrat uit Australië terug huis toe gepos het, is op soek na die twee Ierse mans wat hom destyds bygestaan het.

Robson wil graag kontak maak met Paul en John – hy kan nie hulle vanne onthou nie – wat hom destyds gehelp het om uit Australië te ontsnap.

Hy was 19 jaar oud toe twee vriende hom gehelp het deur ʼn houtkrat met Robson binne-in toe te spyker sodat hy homself per lugpos van Melbourne na Londen, Engeland, kon stuur.

Robson kon nie ʼn vliegtuigkaartjie bekostig nie en was desperaat om by die huis te kom. Die reis was egter baie gevaarliker as wat hy ooit sou kon dink en het amper die einde van sy lewe beteken. Hy het egter oorleef om dié ongelooflike verhaal te vertel.

As tiener het Robson by die Victorian Railways gewerk in ʼn immigrasieprogram na Australië en hy was sielsongelukkig. Hy kon nie net ʼn kaartjie huis toe koop nie, aangesien hy homself reeds daartoe verbind het om twee jaar in dié land te bly.

Sy reiskoste is deur die Australiese regering gedek en hy sou £800 moes uithaal om hulle terug te betaal en sy weg huis toe te vind. “My salaris was ongeveer £30, so daar was geen manier nie.”

Buite die boks dink

Brian Robson het ten volle herstel nadat hy kliphard gevries het toe hy in ‘n houtkrat via lugpos gereis het. (Foto: Facebook)

Dit is toe dat hy die blink plan gekry het om homself per lugpos huis toe te stuur. Twee Ierse mans, Paul en John, het vir die maatskappy gewerk en was goeie vriende. Hy onthou dat Paul en John saam skoolgegaan het in Ierland, maar hy onthou nie waar nie.

Destyds het hulle mekaar gereeld gesien en bevriend geraak. Robson het hulle hulp nodig gehad aangesien Paul toegang tot ʼn tikmasjien gehad het om die dokumente te tik wat hy nodig sou hê om homself as lugvrag te stuur.

Aanvanklik het hulle gedink hy is van lotjie getik. Dit het ʼn week geneem om hulle te oorreed. “John het my al die pad ondersteun, maar Paul wou dit glad nie doen nie,” vertel hy.

Hulle het ooreengestem dat hy hulle uit die storie of enige publisiteit sou hou ingeval dit tot moeilikheid vir hulle kon lei.

Hulle het hom gehelp om in die houtkrat so groot soos ʼn klein yskassie te klim. Hy het kussings, ʼn flits, sy tas en twee bottels saamgebring – een vir water en een vir urien.

Hy kon nie sy bene strek nie en ook nie omdraai nie.

Dié kant bo

Die reis sou baie moeiliker en gevaarliker wees as wat Robson ooit kon dink. Hy was veronderstel om direk Londen toe te vlieg, maar die vrag is herlei op ʼn stadiger roete via Los Angeles, VSA.

Hy het ook vinnig agtergekom dat net omdat ʼn krat aandui “dié kant bo” dit nie beteken mense steur hulle daaraan nie. Toe die vlug land, was hy 22 uur lank met sy kop onderstebo gelaat. Hy het uitmergelende pyn ervaar.

Hy het egter nie moed opgegee nie. Terug in die lug was hy weer op sy weg, net nie direk na Brittanje nie.

‘Daar is ʼn liggaam daar binne’

Brian Robson demonstreer hoe hy in die krat gelê het. (Foto: Facebook)

“Ek was in die krat vir vyf dae en het in ʼn vragskuur beland. Ek het gedink ek is in Londen,” het hy gesê.

“Ek kon my hand beweeg om my flits te kry, maar my vingers was so styf dat ek die flits laat val het. Ek het stemme hoor sê: ‘Wat gaan daar aan?’ Dit is toe dat ek besef die twee mans het nie ʼn Engelse aksent nie, maar ʼn Amerikaanse aksent.

“Een van hulle het deur ʼn gaatjie in ʼn houtknoop in die krat geloer en ons oë het mekaar s’n ontmoet. Hy het omtrent ʼn myl teruggedeins en gesê: ‘Daar is ʼn liggaam daar binne.’”

Hulle is vort en sowat ʼn uur later het ʼn storm losgebreek – FBI, CIA, lughawesekuriteit en ʼn ambulans het opgedaag.

Robson was kliphard gevries in sy houtkrat.

‘Ek wil vir hulle ʼn dop koop’

Robson is hospitaal toe geneem waar hy stadig weer die gebruik van sy ledemate herwin het. Die Amerikaners het nie klagtes ingedien nie en hy is huis toe gestuur na Londen – dié keer as ʼn passasier op ʼn vlug.

Hy het aangegaan om sy lewe, familie en loopbaan te geniet en het nou op 76-jarige ouderdom ʼn boek getiteld The Crate Escape oor dié groot avontuur geskryf.

Robson is soms self verbaas oor sy eie idee. “Dit was onnoselheid. As een van my kinders dit sou waag, sal ek hulle velle aftrek. Maar, dit was ʼn ander tyd.”

Nou sal hy net graag weer sy Ierse vriende wou vind. Hy het glo vir hulle geskryf vanuit Wallis kort ná sy terugkeer, maar geen terugvoer gekry nie.

“As ek hulle weer sien, sal ek graag wil sê dat ek jammer is ek het hulle hierby ingesleep en dat ek na hulle verlang het toe ek teruggekom het,” het hy gesê.

“Ek sou graag vir hulle ʼn dop wou koop.”

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.