Man uit park geskop wat ‘te veel soos Kersvader lyk’

Jerry Henderson is uit Six Flags over Texas geskop omdat hy glo te veel soos Kersvader lyk

Jerry Henderson is uit Six Flags over Texas geskop omdat hy glo te veel soos Kersvader lyk

Jerry Henderson van Burleson in Texas en sy vrou besoek die afgelope drie jaar lank al byna elke naweek die Six Flags over Texas-park in Arlington om bietjie oefening in te kry.

Henderson, met sy lang, wit baard en klein raamlose bril, sê beamptes by die park het nog nooit vantevore ʼn probleem gehad met sy voorkoms nie, tot Saterdag. “Dis nie ʼn kostuum nie,” het hy gesê. Hy lyk glo al byna 20 jaar lank só. Tydens die feesgety dra hy ʼn rooi oorhemp en Kersvader-hoed.

“Ek gaan winkel toe só. Dis wie ek is,” het hy gesê. “Ek hou daarvan dat kinders glimlag as hulle my sien.”

Terwyl hulle Saterdag by Six Flags was, het ʼn besoeker aan die park hom genader en gevra of hy saam met haar kinders sou poseer vir ʼn foto. Dis egter waar die moeilikheid begin het.

“Ek het gekniel en my arms om hulle gesit. Daarna het ek twee lekkers uit my vrou se handsak gehaal en dit vir die kinders gegee,” het hy verduidelik.

ʼn Beampte van die park het Henderson egter kort daarna genader en gesê hy is nie meer welkom in die park nie. “Ons moet jou vra om die park te verlaat,” het die wag glo aan hom gesê. “Hoekom?” wou Henderson weet. “Jy lyk te veel soos Kersvader,” het die wag gesê. “Jy maak seker ʼn grap. Ek nader nie die kinders nie, hulle ouers kom na my toe.”

Henderson beweer hy het selfs aangebied om sy hoed af te haal en nie meer enige lekkergoed uit te deel nie, maar die parkbestuurder het gesê dis nie genoeg nie – hy sal ook van die baard ontslae moet raak.

“Nie vir jou, Six Flags, of enigiemand anders skeer ek my baard af nie,” het Henderson hierop geantwoord. Hy het die park verlaat, maar ʼn klag aanhangig gemaak en Six Flags versoek om hom te vergoed vir sy seisoenkaartjie.

Six Flags het in ‘n verklaring gesê hulle vra om verskoning vir Henderson vir enige ongerief, maar dat die veiligheid van hul gaste die hoogste prioriteit geniet. “Ons kan nie enige individu toelaat, wat nie deur ons park goedgekeur is, om met kleiner kinders kontak te hê in dié kapasiteit nie. Hy het lekkergoed uitgedeel en was soos Kersvader aangetrek, in oortreding van ons beleid dat niemand ʼn kostuum mag aanhê nie. Toe hy geweier het om sy kleredrag te verander, is hy versoek om die park te verlaat.”

Henderson het nog nie gehoor of hy die geld vir sy seisoenkaartjie gaan terugkry nie.

Bron: NBC, Dallas News, CW33

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Theresa ·

Regtig groot ooreenkoms :). Dus te wagte wees in ‘n gesofistikeerde stelsel om gevra te word om die ou hoedjie af te haal! Dalk ook die rooi onderbaadjie. Maar dis erg om die baard te moet afskeer!! Hier in sonnige SA sal daar nie ‘n haan oor kraai nie – selfs al het meneer dalk slim streke in gedagte.

Duiwelse Advokaat ·

Volgende jaar moet hy maar alles swart kleur en sê dit is n Burka!

Piet ·

En so het ook Zwarte Piet in Holland teëspoed opgetel . . .

Grotman ·

Eish! Ek weet van n paar mense wat nie die jaar gaan geskenke kry nie! Dit was Kersvader op n Lunch Break!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.