Man vergeet hy verkoop motor, meld dit as gesteel aan

Argieffoto Foto: stevepb, Pixabay

ʼn Man wat te veel te drink gehad het, en sy motor verkoop het om nog drank te kon koop, het dit die volgende dag as gesteel aangemeld toe sy motor weg was.

Die man het oor die naweek die motor as gesteel aangemeld by Rotorua-polisie in Nieu-Seeland. Hy het gesê sy motor is weg en hy vermoed iemand het dit gesteel toe hy uithuisig was, berig die New Zealand Herald.

Sers. Dennis Murphy, woordvoerder van die polisie, het gesê die man het egter die motor vir $800 verkoop om nog geld vir alkohol te bekom, maar toe hy die volgende oggend wakker word, kon hy nie onthou wat hy gedoen het nie.

“Die man wat die motor gekoop het, het gelukkig die volgende dag die registrasienommer op die CarJam-webwerf nagegaan, aangesien hy bekommerd was dat dit ʼn gesteelde motor kon wees,” het Murphy verduidelik.

CarJam is ʼn webwerf wat omvattende voertuiggeskiedenis bied en persone kan binne sekondes bepaal of daar enige uitstaande skuld op ʼn motor is en of dit moontlik gesteel is.

“Die polisie het in daardie stadium reeds die verslag ontvang dat die motor moontlik gesteel is, en ʼn waarskuwing het op CarJam se webwerf verskyn.”

Volgens Murphy het die koper die motor na die polisiestasie gebring en vertel wat gebeur het. “Ons kon hom in kontak bring met die oorspronklike eienaar en hulle het die saak opgelos.”

Murphy het gesê die polisie sê gereeld vir die publiek dis gevaarlik om te drink en bestuur, maar nou het hulle nóg ʼn waarskuwing: “Moenie drink en jou motor verkoop nie!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Stefaans ·

Dit was nou ‘n slim ding om te doen – verkoop die kar, dan kan jy nie gevang word vir dronkbestuur nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.