Meer as R4 miljoen vir ʼn kleinhuisie vir Instagram-gebruikers

Die beroemde blou boothuisie in Perth (Foto: delathouwer_anthony/Instagram)

Daar is sekere plekke in stede wêreldwyd wat toeristebestemmings geword het, bloot vanweë die mooi foto’s wat in die omgewing geneem kan word.

Een van dié voorbeelde is ʼn klein boothuisie wat op ʼn rivier in Perth, Australië, te sien is. Dié boothuisie bied die ideale agtergrond vir foto’s wat uiteindelik op sosiale media gedeel word, en Instagram-gebruikers stroom na die Crawley Edge Boat Shed op die Swanrivier. Volgens CNN is dié huisie die gebou waarvan die meeste foto’s in Perth geneem word.

Dis nie maklik om by die huisie uit te kom nie: jy moet te voet die gevaarlike Mounts Bayweg oorsteek om by Crawley Edge uit te kom, en daar is ook nie ʼn publieke toilet in die omgewing nie. “Daar is die afgelope paar jaar ʼn groot toename in besoekers, en selfs toerbusse hou hier stil vir fotogeleenthede,” het die Perth-stadsraad gesê. “Die naaste openbare toilet is by Narrows Gardens, ongeveer 2,4 km verder.”

Van die besoekers het die geriewe in ʼn nabygeleë restaurant, Zafferano’s, gebruik, maar die bestuurder raak al hoe meer ontevrede met dié reëling. “Hy het verskeie klagtes ingedien, omdat die besoekers sy gewone bedrywighede en klante ontwrig,” aldus die notule van ʼn vergadering van die stadsraad. “Hy het voorvalle van verbale mishandeling en vandalisme aangemeld en bykomende koste wat met die bykomende gebruik van sy toiletfasiliteit gepaard gaan.”

Die stadsraad het besluit om nuwe toilette “as ʼn prioriteit” op te rig, spesifiek vir persone wat die boothuisie wil besoek. Die konstruksie van die geriewe begin in Junie en sal na verwagting teen einde Augustus 2019 afgehandel wees.

Die toilette sal Perth se eerste losstaande toiletfasiliteit wees, wat deur sonkrag aangedryf word.

Volgens die stadsraad beloop die koste vir die projek ongeveer AU$401 280 (ongeveer R4,12 miljoen) met ʼn bykomende AU$20 000 (R205 000) per jaar vir instandhouding.

https://www.instagram.com/p/BIc1pgXhIva/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Mornay ·

Hier in Suid afrika is ook baie sulke huisies ook sonder toilette die verskil is net die stads raad gaan niks doen nie

Sune van Heerden ·

Dagsê Penellope

‘n Huis wat klein is, is ‘n “klein huisie” (twee woorde), wanneer daar egter na ‘n toilet verwys word (meestal buite ’n huis geleë), spesifiek ‘n buitetoilet, word dit as een woord geskryf.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Heidi ·

Ek wil in daardie blou huisie gaan bly! En niemand mag my toilet gebruik nie.

Therese ·

Kan getuig van die swerms toeriste wat op hierdie oulike blou boothuisie toesak!
Ook ‘n gewilde plek vir bruide en hul gevolge.
Fietsryers weet al om spoed te verminder daar verby, anders haal dit dalk die aandnuus.
‘n “Kleinhuisie” is ‘n dringende noodsaaklikheid.

Willem van der Merwe ·

Bly om te sien dit is nie net in SA wat toilets mijoene kos nie

LandVis ·

Dis nou ‘n kleinhuisie se prys vir ‘n klein huisie se kleinhuisie@

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.