Meer as R8 000 vir skoolklere by dié laerskool

Taimei Elementary School (Foto: Japan News – Yomiuri)

Ginza in Tokio, Japan staan bekend as een van die stylvolste buurte in die hoofstad en moontlik die wêreld. Toe ʼn plaaslike laerskool dus ʼn nuwe skooluniform wou ontwerp, het hulle by die Italiaanse handelsmerk Armani gaan aanklop.

Taimei Elementary School se nuwe skoolklere is beslis baie stylvol, maar die ouers was ontstoke toe die koste daarvan bekend gemaak is. Volgens besonderhede wat in Huffington Post Japan gepubliseer is, kos die volledige skooluniform, insluitend ʼn sak en ʼn hoed, meer as 80 000 yen (ongeveer R8 800).

“Dis omtrent drie keer duurder as die huidige skooldrag,” het een van die ouers gesê. “Waarom Armani?” wou ʼn ander weet, volgens ʼn verslag van die plaaslike onderwysraad.

Selfs in Japan word die skoolklere as te duur beskou vir kinderklere – veral omdat Taimei ʼn staatskool is. Talle skole in Japan het amptelike skooldrag, maar die doel is grootliks om skool-identiteit te vorm en die las om in die mode te wil wees, te vermy.

Die nuwe skooluniform is nie verpligtend nie, maar skoliere wie se ouers dit nie kan bekostig nie, sal waarskynlik verneder voel, meen kommentators. ʼn Bekende in die opvoedingskringe, Naoki Ogi, ook bekend as Ogi-Mama, het op sy blog gesê ʼn Armani-uniform is soos om “nee te sê vir arm mense” of “slegs dié kinders wat trots is op Armani is hier welkom”.

Een van die ouers, wat anoniem wou bly, het aan Huffington Post Japan gesê hy is verras oor die besluit. “Waarom moes ʼn luukse handelsmerk die skooldrag ontwerp van ʼn openbare laerskool?”

Politikus Manabu Terada het die kwessie aangeroer tydens die Laer Huis se begrotingskomitee en gesê die skooldrag is selfs duurder as sommige pakke vir volwassenes. Ministers het saamgestem dat gesinne moontlik nie die skooldrag sal kan bekostig nie. Yoshimasa Hayashi, minister van opvoeding, het gesê die skool moes die saak eers met ouers bespreek het en sy ministerie sal ondersoek instel om enige “oormatige” las op ouers te verhoed, het Kyodo News Agency berig.

Taimei Elementary School het in die laat 19de eeu sy deure oopgemaak en die bekende skoolgebou – oortrek met rankplante – is net ʼn paar blokke van die duurste eiendom in Tokio.

Die skoolhoof, Toshitsugu Wada, het aan die plaaslike onderwysraad gesê die skool het verlede jaar besluit dat nuwe skoolklere ontwerp moet word, maar ouers het eers in November uitgevind dat Armani die uniform sou ontwerp, toe Wada ʼn brief aan die ouers gestuur het. Die besluit is geregverdig omdat die skool as ʼn “Ginza-landmerk” beskou word.

Op ʼn vraag van die nuuswebwerf Asahi Shimbun of die nuwe uniform geskrap sou word, het Wada gesê die ou skoolklere word nie meer vervaardig nie. Die Armani-ontwerp sal na verwagting in April in gebruik geneem word.

Wada het intussen tydens ʼn perskonferensie gesê hy het op Armani besluit omdat daar ʼn boetiek naby die skool is en dit sou by Taimei se identiteit as “ʼn skool van Ginza” aansluit. Die omstredenheid rondom die besluit het hom nie laat afsien van die idee dat die koste vir die skooldrag die moeite werd is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sleutel ·

ROFL! “daai skool gaan nie lank hou nie” lees die volle berig tannie, is al geopen in die 19de eeu, skoolklere pryse gaan nie die skool toemaak nie, die is nie julle Spurs nie.

Justice ·

Nie te bekommer nie – China sal binnekort Armani skoolklere aan die ouers verskaf teen `n kwart van die prys.

Waarheid ·

Ja Justice, en dan trek klere skeef, nate trek los en dit verkleur na eerste kwartaal. Pryse van skoolklere is hier in ons land ook besig om baie lonende uitbuitbesigheid te word vernaam privaat skole. Praat van ondervinding.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.