Miljardêr wil jou saam vat maan toe

Yusaku Maezawa (Twitter-plasing)

Die Japannese miljardêr Yusaku Maezawa (44), die eerste voornemende toeris wat saam met SpaceX ruimte toe gaan, is op soek na ʼn maat om dié reis saam met hom mee te maak.

Hy het ʼn kompetisie van stapel gestuur om “ʼn vroulike maat” te kry wat saam met hom om die maan sal vlieg. Die webwerf stel dit duidelik dat hy nie net op soek is na ʼn vriendin nie, maar ʼn spesiale persoon wat hom op dié reis kan vergesel.

“[Maezawa] droom al lank daarvan om ruimte toe te gaan,” lui die webwerf. “Hy wil dié spesiale plek saam met iemand spesiaal besoek.”

Die webwerf verduidelik dit is ʼn ernstige maatsoek-geleentheid wat gedokumenteer sal word tydens ʼn realiteitsprogram, “Full Moon Lovers”. Dié reeks sal op die Japannese televisiediens AbemaTV uitgesaai word. Enige enkellopende vrou ouer as 20 met ʼn “positiewe, vrolike persoonlikheid”, wat die lewe ten volle wil geniet en wêreldvrede nastreef, kan inskryf. Hulle moet natuurlik ook belangstel daarin om ruimte toe te gaan.

Maezawa en die wenner sal vermoedelik met SpaceX se Starship-vuurpyl maan toe reis.

SpaceX het in September 2018 onthul dat Maezawa ʼn “groot deposito” oorbetaal het om die eerste privaat persoon te wees wat op Starship reis sodra dit gereed is.

Die vuurpyl sal Maezawa maan toe stuur, sonder om daarop te land, en dan terugkeer aarde toe. SpaceX het nie bekend gemaak hoeveel hy betaal het nie, maar die uitvoerende hoof, Elon Musk, het gesê dit was genoeg om hom te help om gedeeltelik vir die ontwikkeling van die voertuig te betaal.

Maezawa het in daardie stadium bekend gemaak dat hy ook bykomende sitplekke op die voertuig verseker het.

Yusaku Maezawa (Foto: Abema TV)

Maezawa is die stigter van Japan se grootste aanlyn handelaar Zozotown en is, volgens Forbes se jongste statistiek, sowat $2 miljard werd (byna R29 miljard). Hy het verlede week die rekord op Twitter verbeter vir die plasing wat die meeste “retweet” is ná hy aangekondig het dat hy 1 miljard yen tussen ʼn lukrake groep van ongeveer 1 000 persone gaan deel wat sy plasing oor die kompetisie deel. Dié plasing is reeds meer as 4 miljoen keer gedeel.

Hy het in 2019 op Twitter 100 miljoen yen tussen 100 wenners uitgedeel (1 miljoen yen per persoon).

“Ek het my deel van geld, sosiale status en roem behaal. Maar nou begin ek van voor af met my lewe. Ek is nou 44 jaar oud. Gevoelens van eensaamheid en leegheid oorval my en daar is een ding waaraan ek dink: Om een vrou lief te hê,” sê Maezawa op sy webwerf.

“Dit is iets wat almal as vanselfsprekend aanvaar, maar dit is iets wat ek nog nie in staat was om te doen nie. Toe ek die geleentheid aangebied is om op dié reis te gaan was ek aanvanklik trots en skaam, en ek het gewonder of ek dit dalk van die hand moet wys. Maar hoe meer ek daaroor gedink het, het ek gedink só geleentheid is dalk iets wat net een keer in ʼn leeftyd gebeur.

“Ek het my besluit gemaak en finaal besluit om deel te wees van die program. Ek wil ʼn lewensmaat hê. Saam met dié toekomstige maat sal ek liefde en vrede kan uitbasuin vanuit die ruimte. Ek sien uit daarna om iemand wonderlik te ontmoet.”

Sperdatum vir aansoeke is 17 Januarie 2020 en finaliste sal teen einde Januarie gekies word. Diegene wat gekies word, sal Maezawa in Februarie en Maart persoonlik ontmoet. “Die finale besluit” sal teen die einde van Maart aangekondig word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Niklaas ·

Ek verwag ‘n stormloop van kandidate wat die uitverkorene kan en wil wees.

Helizna ·

Ons roep alle fortuinsoekers en ‘gold-diggers’ on ‘n aansoek te bring. Arme ryk man.

charmaine ·

Nee dankie vir die maantrippie maar as jy geld het wat jou sak brand ek kan doen met n miljoen.

Denise ·

Ek verkies liefs die Natuur ek wil groen sien nie grys !!! Maan toe mmmmm nee nie vir my nie.

Martins ·

In SuidAfrika is die rand so swak vrouens trou nou weer vir liefde

Marita ·

Ag wil hy nie ons hele kabinet saamvat nie …. one way asb.

GRIET ·

Dié arme,arme geesarm…rykman! Nee, wat boet… hou maar verby!!

romuald ·

Ag mense kom by alle maanlandings is n klug dis tegnies onmoontlik, gaan kyk op youtube eric dubay en paulontheplane se videos…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.