Miljoene vir Marilyn Monroe se ‘Happy Birthday’-rok

Marilyn Monroe in die ikoniese rok

Marilyn Monroe in die ikoniese rok

Die rok wat Marilyn Monroe aangehad het toe sy “Happy Birthday” aan pres. John F Kennedy gesing het, is pas vir ʼn wêreldrekordbedrag op ʼn veiling in Los Angeles verkoop.

Julien’s Auctions het gesê die ikoniese rok is Donderdag aan Ripley’s Believe It or Not vir $4,8 miljoen (R68,4 miljoen) verkoop. Dit is die duurste rok wat nog ooit op ʼn veiling verkoop is.

Die maatskappy het in ʼn persverklaring gesê die aktrise het die rok, deur Hollywood-ontwerper Jean Louis, op 19 Mei 1962 aangehad vir Kennedy se 45ste verjaarsdagviering by die Madison Square Garden in New York.

Die vleeskleurige rok het meer as 2 500 kristalle en 6 000 glaskristalle wat per hand vasgewerk is. Die rok was só noupassend, dat sy in die rok vasgewerk moes word, wat haar verskyning op die verhoog voor 1 500 persone vertraag het.

Monroe het aanvanklik ongeveer $12 000 vir die rok betaal en dit is 37 jaar later, in 1999, vir $1,27 miljoen verkoop by Christie’s.

Die rok was een van 1 300 persoonlike items uit die Marilyn Monroe-versameling wat Julien’s Auctions verkoop het.

Monroe se passievolle weergawe van die verjaarsdagliedjie is sedertdien al herhaaldelik uitgesaai.

Sy is ʼn paar maande later, op 5 Augustus, in die ouderdom van 36 dood gevind. Die staatsaanklaer se kantoor het bevestig sy het ʼn oordosis slaappille ingekry.


ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.