Moenie dié foto’s glo nie!

Een van Agan Harahap se gedokterde foto’s: Sukarno saam met Marilyn Monroe, Elizabeth Taylor en Jackie O

In ʼn era van sosialemedianetwerke waar die jongste nuus oor bekendes dadelik versprei word, is dié Indonesiër se vervalste paparazzi-foto’s moeilik om van die res te onderskei.

Agan Harahap (38) het bekendheid verwerf met ʼn foto waar hy saam met James Hetfield, sanger van Metallica, vodka drink. Die foto was egter ʼn vervalsing en Hetfield en Harahap het mekaar nog nooit ontmoet nie.

Harahap het ook al foto’s versprei waar hy kwansuis saam met die popster Rihanna aangehou word. Kim Kardashian en Scarlett Johansson het ook al deurgeloop.

Harahap sê sy digitale bluffery is maar net ʼn waarskuwing aan Indonesiërs wat nog nie gewoond is aan die internetkultuur nie, en gretig is om alles te deel en te versprei. “Hou op om alles te glo wat jy aanlyn sien,” is sy raad. Internetgebruik het in dié land toegeneem danksy goedkoop Chinese selfone.

Ondanks Harahap se humor in die vervalste foto’s, is die boodskap ernstig. Indonesië sukkel met fopnuus en daar is kommer watter impak fopnuus op volgende jaar se verkiesing in dié land gaan hê.

Een van Harahap se gewildste gedokterde historiese foto’s is van Indonesië se eerste president, Sukarno, wat met Marilyn Monroe, Elizabeth Taylor en Jackie O. gesels. “Sukaro was ʼn regte rokjagter, so die foto dui maar net op sy sjarme. My werk is ʼn reaksie op die geskiedenis,” het Harahap verduidelik. Die foto is uit die History X-reeks, waar hy die identiteit van ʼn fiktiewe paleisfotograaf tydens Sukarno se heerskappy geskep het. Die vervalste foto was só goed, dat die stigting, wat geskiedkundige materiaal wat met Sukarno verband hou versamel, hom gekontak het.

Harahap is nie bekommerd dat sy foto’s met die werk van geskiedkundiges sal inmeng nie, aangesien daar “nog baie ernstige en bekwame mediaorganisasies is wat hul feite nagaan voor hulle enigiets publiseer.”

Sien nog van sy gedokterde foto’s op Instagram en Flickr

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peanut ·

Dié is nie eens goed gedoen nie. Belaglik wat mense sal glo!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.