Monstermot in Australië só groot sy kan nie vlieg nie

Foto: Mount Cotton State School/Facebook

ʼn Reusagtige mot – so groot en swaar dat dit gesukkel het om te vlieg – is Maandag by ʼn skool in Australië gevind. Bouers het op die reuse-houtmot afgekom toe hulle nuwe klaskamers by die Mount Cotton-staatskool in Queensland opgerig het, berig The Guardian.

Die mot is glo so groot soos ʼn rot.

Meagan Steward, die skoolhoof, het dit as “ʼn ongelooflike vonds” beskryf. “Ons nuwe gebou is op die rand van ʼn reënwoud geleë en die mot is gevind tydens konstruksie,” het sy aan ABC Radio Brisbane gesê. Sê sy personeellede en leerlinge is gewoond daaraan om ʼn rits diere by die skool te sien, maar die mot is beslis ongewoon.

Die skool het foto’s van die reusemot op Facebook gedeel en honderde reaksies uitgelok.

Die reuse-houtmot, ook bekend as die Endoxyla cinereus, word aan die kus van Queensland en New South Wales aangetref. Volgens dr. Christine Lambkin, hoof van entomologie by die Queensland-museum, is dié tipe mot die swaarste in die wêreld. “Hulle vlieg baie, baie moeilik. In sommige gevalle kruip die wyfies net teen ʼn boom of heining of stomp op en hulle wag daar vir mannetjies om hulle te vind,” het Lambkin verduidelik.

Foto: Mount Cotton State School/Facebook

Die wyfies, ongeveer twee keer so groot soos mannetjies, kan tot 30 gram weeg en spog met ʼn vlerkspan van 25 cm.

Mens sien gewoonlik nie die reuse-houtmotte nie, omdat hulle slegs ʼn paar dae lank leef as volwassenes, aldus die Australiese museum.

Bouers by die Mount Cotton-skool het eers foto’s van die mot geneem voor hulle dit weer in die woud vrygelaat het. Die insek het reeds as inspirasie gedien vir die skool se kreatieweskryfwerk-klas. Een storie gaan oor ʼn onderwyser wat deur ʼn reuse-houtmot verorber word.

A giant wood moth found during the build! https://www.abc.net.au/radio/brisbane/programs/breakfast/giant-moth-invasion/13326950

Posted by Mount Cotton State School on Sunday, May 2, 2021

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Janine ·

Ek is morsdood! Ek weet hulle doen niks, maar gril my dood!

Cherokee ·

Snaaks dat soveel mense ‘dood’ in Afrikaanse beskrywings gebruik. Dit is so negatief.
Mense lag hulle dood, word doodmoeg, vrekbang en soveel meer uitdrukkings oor emosies, wat meer positief beskryf kan word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.