’n Klap van die windmeul weg?

Vasily Khamotiskiy (regs) gee sy teenstander ‘n oorveeg. Foto: Skermskoot/YouTube-video

Op YouTube is daar ’n video waar twee groot, bebaarde mans aan weerskante van ’n tafeltjie in Rusland staan.

Die volgende oomblik laat waai die een met die plathand en klap die ander dat die spoeg letterlik in al vier windrigtings spat.

Nee, dit is nie die KGB wat met die een of ander marteltegniek vorendag gekom het nie, hierdie deelnemers deel uit vrye wil klappe uit. En die vreemdste van alles is dat hulle dan doodstil en gedwee staan om teruggeklap te word.

En vir ’n land wat met Georgiv Zhukov (weermagheld), Yuri Gagarin (ruimtevaarder) en Valentina Tereshkova (ruimtevaarder) vorendag gekom het, is Vasily Khamotiskiy sedert 2019 die naam op almal se lippe.

Khamotiskiy, ’n plaasboer wat net ’n rapsie meer as 140 kg weeg, is verlede jaar as Rusland se eerste klapkoning gekroon.

Nou, om ’n klapkampioen te word, verg – anders as met skaak – nie juis te veel dinkwerk nie. Nadat talle video’s op YouTube bestudeer is, is die reëls eintlik heel eenvoudig: Jy speel basies hou vir hou met jou teenstander en die een wat eerste harpuis ruik of rooiwang die handdoek ingooi, verloor.

Khamotiskiy – wat met die bynaam “The Dumpling” spog omdat hy so baie van eet hou – was so te sê onstuitbaar gewees totdat hy verlede jaar sy moses teëgekom het.

Danksy sy teenstander se veeghou het Khamotiskiy sy bewussyn verloor en gesig-eerste in die tafeltjie geval. Mensig, jy kon sien dit moet beslis seer gewees het.

“Ek het eintlik nogal van daardie klap gehou wat my ondergekry het – dit was ’n goeie een. Ek het ’n bietjie my bewussyn verloor, maar ek wou verder geklap het. Hulle het egter die geveg stopgesit,” het ’n vrolike Khamotiskiy gesê.

Afgesien van die feit dat deelnemers soms “so ’n bietjie hul bewussyn verloor”, was daar ook al klagtes oor verlore tande en gebreekte kakebene.

Maar een ding is seker: In Rusland vat jy ’n klap soos ’n man.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gerhard ·

Mensig, dit lyk na n lekker speletjie as jy n teenstander kan kry soos…Julius… of Andile…of Carl Nieuhaus…

Danie ·

Sal nogal lekker wees. Maar ek is heel seker jy sal die lafaards nie eers in ‘n 100 kilometer radius van so ‘n kompetisie af kry nie.

SwartBees ·

Oeh ja, nou praat jy. Daar is n paar ouens wat ek watwil gee om sommer metdie vuis by te kom.

Niklaas ·

Ek mag dit dalks vreeslik geniet , as ek my teenstanders kan kies , en hul nie terugslaan nie.
Ek kan dink aan ‘n hele klomp kandidate .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.