ʼn Plat aarde? Vuurpyl-lansering uitgestel

“Mad” Mike Hughes en sy vuurpyl (Foto: Waldo Stakes/HO met vergunning van Mad Mike Hughes via AP)

Mike Hughes sou teen die tyd al “bewys” het die aarde is plat.

Dit was volgens sy oorspronklik plan, om homself Saterdag ongeveer 548 meter hoog in die lug in te lanseer met ʼn vuurpyl wat hy self van skrootmetaal gebou het. Die lansering sou in Amboy, Kalifornië in die VSA plaasvind in die Mojave-woestyn.

Sy plan was om ʼn foto te neem wat glo ʼn bewys sou wees van ʼn sameswering van talle ruimtevaarders oor die vorm van die aarde.

Hy beweer talle probleme het egter opgeduik en hy is gedwing om sy eksperiment uit te stel.

Die Buro van Grondbestuur het hom glo laat weet dat hy nie sy vuurpyl op openbare grond kan lanseer nie, alhoewel Hughes volhou die federale agentskap het meer as ʼn jaar gelede vir hom mondelingse toestemming gegee.

ʼn Woordvoerder van die Buro van Grondbestuur het gesê die plaaslike kantoor het geen rekord dat hulle ooit met Hughes kontak gehad het nie en dat hy nie aansoek gedoen het vir ʼn spesiale ontspanningspermit om ʼn geleentheid op openbare grond aan te bied nie. “Iemand van ons plaaslike kantoor het kontak gemaak met hom ná verskeie nuusberigte oor die lansering, want hulle was nie daarvan bewus nie,” het Samantha Storms gesê.

Hughtes se motorhuis/vuurpyllanseerder het boonop dieselfde dag onklaar geraak in die oprit, het hy in ʼn YouTube-video gesê.

Hughes verduidelik die lansering is nie gekanselleer nie, hy verskuif dit net na privaat eiendom en dit sal moontlik binne die volgende week plaasvind.

Hy het intussen in die woestyn kamp opgeslaan en dit het hom die hele naweek geneem om die lanseringsvoertuig te herstel.

Hy voer aan die weersomstandighede moet ook gunstig wees. “Dis nogal woes hier. Ek slaap elke aand in die vuurpyllanseerder.”

Hughes, ʼn 61-jarige limousine-bestuurder, se uiteindelike doelwit is om myle bo die aarde ʼn foto te neem wat ʼn bewys sal wees dat die aarde eintlik plat is. “Ek gaan die deur finaal sluit op die idee dat ons op ʼn ronde bal woon,” het hy in ʼn onderhoud gesê. Hy voer aan NASA word beheer deur Vrymesselaars wat ʼn ronde aarde bevorder en dat Elon Musk se vuurpyle slegs lugballonne is.

Hy het ʼn insamelingsveldtog gehou op die skarefinansieringswebwerf Kickstarter, maar slegs $310 van die $150 000-doelwit verseker.

“Ons is op soek na nuwe borge. Ek glo in ʼn plat aarde,” het hy gesê. “Ek het nou al maande lank navorsing gedoen.”

Dan voeg hy by: “John Glenn en Neil Armstrong is Vrymesselaars. Sodra jy dít verstaan, dan verstaan jy die wortels van die misleiding.” Hy voer aan ruimtevaarders is bloot betaalde akteurs wat voor ʼn CGI-aardbol optree.

Die lansering is slegs die eerste fase van sy poging om te bewys die aarde is plat. Hy sal eers weet of die vuurpyl werk sodra hy gelanseer is. Indien hy suksesvol is, sal hy volgende jaar ʼn groter risiko aanpak. Hy het verlede jaar aan Ars Technica gesê fase 2 behels dat hy in ʼn ballon sal opstyg en ongeveer 6 000 meter bo die grond homself sal lanseer tot in die ruimte. “Dis baie angswekkend,” het hy aan die AP gesê. “Maar niemand van ons gaan in elk geval hierdie wêreld oorleef nie.”

-Washington Post

https://youtu.be/wU0eFpY8RXk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Nakkie ·

Ek wonder wat is die Vrymesselaars se motivering om soveel geld in ‘n klug te plaas. En om dit vir 40 jaar vol te hou sonder dat enige oudruimtevaarder dit probeer blootstel!

Ella ·

Hoe hoog gaan hy op? 500 en iets meter? Om n foto te neem….is daar nie geboue wat hoer as dit is? En… Sal dit nie goed kooper wees om n flug in 747 te “book” en dan n foto te neem?

Eva ·

Ag liewe ouers, ek het ‘n kennis wat glo aan ‘n plat aarde.. Hulle noem ons “blue ballers” ens. Hulle glo selfs die inflight navigasie video is ‘n klug. (wel die 5 van hulle wat wel al internasionaal gevlieg het) Kan ‘n mens so eenvoudig wees?

Veritas ·

Of die aarde plat of rond is, maak aan my geen verskil nie. Wat my wel pla is die afstand tussen die weste en die ooste.

Aarde ·

Aarde mense kan iemand nie medikasie ontwikkel wat onnoselheid genees nie?

Paul ·

Die ou is eintlik net op soek na geld vir sy tuisgemaakte vuurpyle en dinge. Hy het toe besef dat as hy dit as ‘n “plat aarde navorsingsprojek” bemark, sal daar genoeg eenvoudiges wees wat vir hom geld sal skenk daarvoor.

John SamuelJol ·

Wel… met slegs $310 vanuit $150 000 geskenk sal ek sê self die ‘eenvoudiges’ is slimmer as wat ons vermoed

Ingelig ·

Aan almal wat dink hierdie kêrel het ‘n skroef los wil ek graag voor stel dat julle weer Genesis deeglik lees…kyk gerus op YouTube hoe vêr kom vuurpyle voordat hulle soliede massa tref…moenie alles glo wat julle lees nie…en o ja kyk weer mooi na die “United Nations” se vlag/ embleem – reggeraai : kaart van ‘n plat aarde…lekker verder slaap outjies…

LMGA ·

Jy is eerder oningelig. As die aarde plat was en nie rond nie, sou die son en die maan heel waarskynilik ook ie rond gewees het nie. Regtig jy moet ‘n baksteen wees om te din die aarde is plat. ‘n Plat aarde sal ook nie kan nie so lekker in die rondte kan wentel nie. Ai nee… nog ‘n conspiracy theorist wat nie vir homself kan dink nie

Ashley ·

Ingelig!!!!! Nee werklik. Lol!! Gaan liewers niks vir jou se.

Jacques ·

Pla my nie veel nie… maar wat wel interessant is, is die feit dat Rusland en VSA baie naby aan mekaar is op n ronde aarde, maar indien jy vlieg van die een tot die ander, dan vlieg jy oor die ganse Europa en Afrika?

Witblitz ·

‘n Vlug vanaf Washington na Moskou se roete gaan eintlik net oor Ysland en Skandinawië – die kortste roete op ‘n bal.

Luister ·

Haha. Darem snaaks dat niemand van die aarde af val nie! Of is dit afval? :-)

Casper Labuschagne ·

Of die aarde nou plat is, en of die aarde rond is, dit is die landing waaroor hy moet bekommerd wees in daardie gevleulde kontrepsie.

T ·

As die aarde plat was sou ons almal in dieselfde tydzone gewees het . Die son sou dan vir almal op dieselfde tyd op gekom en onder gegaan het .
Waneer ek met my familie in die VSA praat dan is daar n redelike tyds verskil

fm ·

Ingelig groot asseblief gaan vra onmiddelik elke sent van jou skoolgeld terug asseblief. Hulle behoort dit onmiddelik vir jou terug te gee met rente.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.