Nege jaar later kom sy bottelbriefie terug – al die pad uit Frankryk

Die brief wat Max Vredenburgh uit Frankryk ontvang het (Foto: Max Vredenburgh/Twitter)

ʼn Man van Massachusetts het ʼn groot verrassing gekry toe iemand in Frankryk ʼn brief opgespoor het wat hy byna ʼn dekade gelede in die see gegooi het.

Max Vredenburgh was maar 10 jaar oud toe hy die briefie geskryf en in ʼn leë wynbottel geplaas het. Hy het op 21 Augustus 2010 die bottel in die oseaan by Long Beach gegooi, het hy aan WBZ-TV gesê. Dit was ʼn kort briefie waarin hy verduidelik het waarvan hy hou – soos sy gunstelingkleur en wat hy graag eet, tipies van ʼn 10-jarige.

“Ek is 10 jaar oud. Ek hou van appels, ek hou van die strand,” lui die briefie. “My gunstelingkleur is blou. Ek hou van diere. Ek hou van motors en ek hou van die ruimte. Skryf asseblief terug.”

Vredenburgh het waarskynlik nie gedink hy sou ooit ʼn antwoord kry nie. Miskien het die bottel stukkend geslaan teen die rotse of iewers op ʼn verlate strand uitgespoel.

Hy het egter verlede maand ʼn groot verrassing gekry toe hy ʼn brief teruggekry het – van ʼn vreemdelik in Europa. ʼn Man genaamd G. Dubois het gesê hy het Vredenburgh se bottel en brief aan die kus van Frankryk gevind – duisende kilometer van waar dit oorspronklik in die oseaan gegooi is.

“Toe ek aanvanklik sy brief lees, het my hart byna gaan staan en my maag het gedraai,” het Vredenburgh aan WBZ-TV gesê. “My 10-jarige wens het waar geword! Dis mal!”

Vreddenburgh het sy opgewondenheid aanvanklik op Twitter gedeel waar dit ʼn baie gewilde inskrywing was.

Volgens die nuusstasie het Vredenburgh en Dubois mekaar intussen op Instagram gekontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JohanL ·

Ek wil nou nie onnodig net die sleg sien nie, maar regtig…………….. hoe gaan die see lyk as ons almal bottels met briefies in die see gooi. Ja, gelukkig is dit die minderheid mense wat dit doen. En dit rig nie naastenby soveel skade aan as die onwettige storting van vullis deur skepe nie. Kyk maar net hoe lyk die see.

Maar dit is tyd dat ons as mensdom daadwerklik iets begin doen om ook die see skoon te kry en elke klein bietjie sal help – ook om nie bottels met briefies in die see te gooi nie.

FM ·

Ons is sekerlik nie almal romanties nie.
Besoedeling ?????
Daardie 2 persone het iets kosbaar gedeel

Maria ·

Te oulik idee dalk gaan my Jack Sparrow opdaag as ek probeer hoekom nie?

Pieter ·

So die mense wat vra wat het hulle besoedel. Lees die berig. Hulle het die see besoedel. Klink my julle is die mense wat hier waar ons bly sommer net bottels rondgooi. Nee man. Of dit die aarde of see is, mens gooi nie net bottels rond nie.

Gaan lees bietjie oor besoedeling in die see en die drywende sg “eilande van rommel” wat al gevorm het in die see.

Theoceancleanup ·

Ja en mors ek nou my tyd en geld om projekte soos theoceancleanup.com te ondersteun? En my kinders te leer om nie hulle rommel in die see te gooi nie? Ten minste het die experiment ‘n punt bewys. Jou rommel verdwyn nooit. Net oor jy dit nie meer kan sien nie beteken nie dis nie meer daar nie. Dink oor elke plastiek sakkie wat jy vandag weg gegooi het . Oor nege jaar lê dit steeds iewers in ‘n vullishoop of ‘n rivier of die see of ‘n strand in Frankryk.

JohanL ·

Dankie Pieter vir die info wat jy gedeel het. Het bietjie gaan kyk want ek was nie bewus gewees daarvan nie. Sien hulle praat van oa die “Great Pacific Garbage Patch” en dit meet ‘n paar duisend vierkante kilometer. Dit is skrikwekkend en kommerwekkend.

Staaf nogal my punt van een bottel maak nie saak nie, maar as almal dit begin doen.

Dan is ek eerde nie romanties nie en gooi nie ‘n bottel in die see nie :) :) :)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.