Net jy, die see en fliek, fliek, fliek

Argieffoto (Foto: Free-Photos/Pixabay)

Terwyl talle mense al siek en sat is daarvoor om by die huis te bly en Netflix te kyk tydens die pandemie, het een gesondheidsorgwerker ingestem om dit na die volgende vlak te neem.

Mashable berig Lisa Enroth, ʼn verpleegster van Skoevde, Swede, is nou gestrand op die land se verafgeleë Pater Noster-eiland. Sy sal vir ʼn week lank alleen in die ligtoring bly en niks anders doen buiten om talle fliek-premières van die Gothenburg-filmfees te kyk nie.

Enroth, wat op die voorste linies Covid-19 bekamp het, is as die wenner aangewys uit meer as 12 000 inskrywings uit 45 lande vir die filmfees se “Isolated Cinema”-kompetisie.

“Geen telefoon nie, geen familie nie, geen vriende nie,” lui ʼn inskrywing op Isolated Cinema se webwerf. “Net die see en die filmfees se 70 premières.”

Mirja Wester, uitvoerende hoof van die filmfees, sê Enroth het “ʼn goeie indruk gemaak” op die beoordelaars met haar inskrywing. “In hierdie moeilike tye is dit veral belangrik om só ʼn unieke ervaring te bied aan een van die talle helde van ons gesondheidsorgstelsel.”

Organiseerders moes aansoekers sorgvuldig nagaan om seker te maak dat hulle emosioneel sterk genoeg sal wees om ʼn week lank alleen in die ligtoring te kan bly.

Jy kan Enroth se daaglikse video-dagboek hier volg.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.