Nóg diverse Barbie-poppe eersdaags op die rak

Die nuwe poppe wat eersdaags in die Fashionistas-reeks beskikbaar sal wees. (Foto: Paul Jordan/Jen Hoon)

Barbie staan bekend as een van die mees diverse popreekse op die speelgoedmark en in Maart word die Barbie-gesin verder uitgebrei met nóg poppe in die sogenaamde Fashionistas-reeks.

ʼn Kaalkoppop, ʼn pop met vitiligo (ʼn siekte wat lei tot die verlies van velkleur en vlekvorming), ʼn pop met ʼn prostetiese ledemaat, ʼn Ken met lang hare en vir die eerste keer nóg ʼn rooikop-Ken sal onder meer eersdaags beskikbaar wees in die Fashionistas-reeks.

Lisa McKnight, globale hoof van poppe by Barbie, sê die maatskappy is trots daarop om die vervaardigers van die mees diverse popreeks op die speelgoedmark te wees.

“Die poppe is ʼn refleksie van die wêreld wat jong meisies rondom hulle sien. Ons toewyding om die wêreld beter te reflekteer maak die deur oop vir belangrike gesprekke en ons weet ons pogings vind aanklank by mense as ons kyk na die laaste agt agtereenvolgende kwartale van groei van ons poppe in die Fashionistas-kategorie,” het McKnight gesê.

Dié swart pop met kurwes en ʼn groot Afro was verlede jaar die top-verkoper wêreldwyd. (Foto: Barbie)

Die Fashionistas-reeks is in 2015 van stapel gestuur in ʼn poging om ʼn meer diverse beeld van die samelewing uit te dra. Verbruikers kan kies uit poppe met verskillende velkleure, oogkleure, haarkleure en -teksture, liggaamstipes en uitrustings.

Volgens Barbie is meer as die helfte van die poppe wat verlede jaar verkoop is uit dié diverse reeks. Uit die tien beste verkopers was sewe daarvan in die diverse kategorie, insluitende ʼn pop wat ʼn rolstoel gebruik. In Brittanje was die rolstoelpoppe ook die top-verkopers terwyl die swart pop met kurwes en ʼn groot Afro die top-verkoper wêreldwyd was.

Die nuwe poppe in die Fashionistas-reeks sal in Maart beskikbaar wees in toonaangewende winkels landswyd. Die poppe word verkoop vir sowat R200 elk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

ELSJE ·

Ruan, daar is al jare n swanger Barbie – my kinder tyd al sou ek se en ek amper 40. Baba kan in en uit maak gehaal en teruggesit word.

HBK ·

Die beste aankoop is geskeide Barbie. Sy kom met Ken se huis, Ken se kar, Ken se hond…..

Misky ·

Lekker lag ek nou vir jou kommentaar @HBK…. skerp en sal sekerlik diè realistieste pop van almal wees – ha ha ha

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.