Nou kan jy in Winnie the Pooh se huis bly!

Die Bearbnb (Foto: Airbnb)

ʼn Huis wat geïnspireer is deur die verhaal van Winnie the Pooh in die honderd-akkerwoud is nou beskikbaar vir bespreking op Airbnb.

Dit vorm deel van Disney se 95ste herdenkingvieringe van dié geliefde kinderboekkarakter.

Die “Bearbnb”, geïnspireer deur A.A. Milne se oorspronklike verhale, is geleë in Ashdown-woud in East Sussex in die suidooste van Engeland. Die Bearbnb kan tot vier gaste huisves en Winnie the Pooh-aanhangers het dus die geleentheid om hulself in die ikoniese wêreld van Pooh and Friends te verlustig, sê Airbnb in ‘n verklaring.

Kim Raymond, wat deur Disney aangestel is as illustreerder van Winnie the Pooh, het die ontwerp van die Bearbnb behartig. Hy tree ook op as gasheer. Raymond teken die ikoniese beer al vir meer as 30 jaar.

Hy het die oorspronklike dekor van E.H. Shepard se illustrasies in ag geneem.

Een van Kim Raymond se illustrasies vir die Bearbnb (Foto: Airbnb)

“Ek teken Winnie the Pooh al vir 30 jaar en ek word steeds geïnspireer deur die klassieke dekor van E.H. Shepard en die jongste Disney-verhale. Die Bearbnb is ʼn unieke ervaring wat die bekoring van Pooh lewendig maak vir aanhangers, terwyl die oorspronklike avonture, wat al vir 95 jaar so belangrik is vir mense, geëer word,” het Raymond bygevoeg.

Die spesiale Bearbnb kan slegs deur Airbnb bespreek word en is geskik vir Pooh en sy avonture saam met Piglet, Tigger, Eeyore en vriende.

Die huis is gebou met boomtakke om die ingang en “Mr. Sanders” op ʼn bordjie bo die voordeur. Die muurpapier is spesiaal deur Raymond ontwerp. Wanneer gaste in die kombuiskaste loer, kan hulle natuurlik potte vol heuning verwag.

Die huis het ʼn dubbelbed op die grondverdieping en ʼn mezzanine-gedeelte met twee enkelbeddens. Gaste sal ook op ʼn begeleide toer geneem word deur die oorspronklike honderd-akkerwoud.

Die huis op 24 en 25 September teen £95 (sowat R1 955) per aand beskikbaar gemaak vir gaste ter viering van die Winnie the Pooh-herdenking. Dit is nog nie duidelik of die huis weer oopgestel gaan word vir gaste nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Misky ·

Oooooh my kinders sou mal wees daaroor!!!! Dekor is pragtig en lyk rerig soos Winnie se huisie binne

Marianna ·

Kom ons doen dit met ons liewe storieboek karaktertjies. Wat van Liewe Heksie se huisie?

Misky ·

Ek stem, oulike idee en kan kinder partytjies daar hou. Selfs sneeuwitjie en sewe dwergies se klein huisie in die woud

Leeuwyfie ·

Dit lyk soos ‘n sprokiesverhaal ;)
Ek hou van jou idee Marianna. Ons het nie so groot verskeidenheid wat eg Suid Afrikaans is nie, maar ons kan seker so bietjie leen? Ek sal graag in Heidi se huisie in die Drakensberge wil bly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.