Nuwe radiodrama “Boekeparadys” skop af

Boekeparadys is ‘n nuwe vervolgverhaal wat vanaf 28 Mei op jou gunsteling gemeenskapradiostasie uitgesaai word.

Luisteraars wat die spioenasie-vervolgverhaal Vendetta geniet het, kan vanaf 28 Mei weer nader skuif vir die splinternuwe vervolgverhaal, Boekeparadys.

Jy kan nou weer elke weeksdag, tot en met 19 Julie, luister na ʼn heerlike storie van die wel en wee van die Boggomsbaaiers. Die klein kusdorpie se vaal plaaslike biblioteek is skielik die lewendige spilpunt waarom alles draai. ʼn Nuwe bibliotekaresse word uit die stad aangestel en gee met die intrapslag die biblioteek ʼn nuwe naam, “Die Boekeparadys” en begin dinge verander na haar smaak. Party is die josie in, ander is jaloers, sommige is nuuskierig en nog ander is eindeloos beïndruk. Hoe ook al, die dorpenaars van Boggomsbaai se lewe word onherroeplik verander.

Die radiodrama is deur die dramaturg Charles J Fourie geskryf, Bettie Kemp is die regisseur en vervaardiger en die vervolgverhaal word versprei deur Maroela Media se radioproduksiehuis, Draadloos.

Kom kyk na Draadloos se programskedule om uit te vind wanneer jou gunsteling radiostasies Boekeparadys uitsaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.