Pare was jonger as ʼn jaar toe hy in 2016 by die Sheldrick Wildlife Trust in Kenia aangekom het. Hy was vermoedelik ʼn slagoffer van stropery en hy was uitgehonger en vol parasiete toe hy opgedaag het.
Die Sheldrick Trust bedryf ʼn redding- en rehabilitasieprogram vir olifante wat wees gelaat is en hul bewaarders het Pare begin versorg.
Die jong olifantjie het egter ook ʼn vriend en vennoot in ʼn olifantbul, wat ook wees gelaat is, gevind. Zurura is 10 jaar ouer as Pare, en het ook soos sy ouboet begin optree. Hul storie laat sosialemediagebruikers se harte vermurwe.
Sheldrick Trust het verlede maand ʼn foto van die twee op Twitter gedeel en hulle het Maandag nog inligting bekendgemaak oor die twee se vriendskap.
Volgens die Trust is Pare vier jaar gelede na die reddingsentrum gebring. “Dit het egter lank gevat voor sy toestand begin verbeter het. Danksy sy sterk wil om te leef en deurlopende spesialis-sorg wat hy van die bewaarders ontvang het, het hy gesond geword.”
In Desember 2018 kon Pare uit die Ithumba-herintegrasie-eenheid verskuif word en in die voetspore volg van talle ander wesies, insluitend Zurura.
Die Ithumba-eenheid is naby aan die Tsavo-Oos- nasionale park in Kenia geleë. Ouer, onafhanklike olifante wat wees gelaat is, maar ouer is as drie jaar oud, word hier gehuisves sodat hulle uiteindelik by ʼn volle onafhanklike lewe in die wild kan aanpas.
Teen die tyd wat Pare by die Ithumba-eenheid aangekom het, is Zurura reeds in die wild vrygelaat, maar die 14-jarige olifant het gereeld teruggekeer na die eenheid om tyd te spandeer met die ander wees-olifante. Pare was baie opgewonde oor dié besoeke.
“Dis duidelik dat Zurura baie daarvan hou om as ʼn ‘ouboet’ op te tree vir Pare en die res van die Ithumba-trop,” het die Trust gesê.
Sheldrick Trust se foto van die twee boeties is baie gewild op sosiale media. “Olifante is wonderlik,” skryf ʼn gebruiker in die kommentaar. “Hoekom kan ons as mense nie ook so goedhartig wees en na mekaar kyk nie?” “Dit het my dag gemaak!” skryf ʼn ander. “Ahhh, daai kleintjie bewonder die grote!”
Klik hier om meer te lees oor Pare
Klik hier om meer te lees oor Zurura
Ek vertrou dat hierdie twee olifante, ‘n voorbeeld stel vir soveel menslike broers, wat nie hierdie sentiment deel nie. Mag laasgenoemde broers, met hete kole op hul hoof gelaat word.
My hart smelt – wat ‘n pragtige artikel. So lekker om ‘n goeie storie te lees.