Olifante dut bietjie tydens lang reis

Skermgreep uit ʼn video wat China Central Television (CCTV) op 7 Junie 2021 beskikbaar gemaak het. (Foto: CCTV/AFP/China Out)

ʼn Trop wilde olifante in die suidweste van China het ʼn ruskans gevat tydens ʼn 500 km lange reis van verwoesting wat al meer as $1 miljoen se skade berokken het.

Die openbare uitsaaier in China het ʼn 24 uur regstreekse uitsending van die trop sodat die land die groep kan monitor ná die 15 olifante al deur huise, skure en landerye gestap het in die Yunnan-provinsie.

Beeldmateriaal van die uitsaaier CCTV het Maandag gewys hoe die trop, uitgeput van hul avonture, in ʼn woud aan die buitewyke van Kunming ʼn blaaskans neem.

Die olifante se avonture hou die land vasgenael en honderde miljoene het al die reis op sosiale media bespreek.

Die olifante word baie goed gemonitor deur owerhede terwyl hulle deur die land trek. Meer as 400 mense is ontplooi om die publiek se veiligheid te verseker en talle hommeltuie volg nou elke tree.

Konvooie vragmotors is op paaie ontplooi om die trop te ontmoedig om digbevolkte gebiede te betree – insluitend die meer as 8 miljoen mense wat in die nabygeleë Kunming woon.

Die plaaslike regering het inwoners gewaarsku om nie enige kos of sout buite te los wat die diere dalk kan lok nie.

Inwoners wat op die olifante se pad is, is reeds ontruim en meer as twee ton voer is aan die trop verskaf.

Kenners is nie seker waarom die groep uit hul oorspronklike habitat, ʼn natuurreservaat in die provinsie, migreer het nie.

Asiatiese olifante is onder A-vlak staatsbeskerming in China en hulle kom hoofsaaklik in Yunnan voor. Danksy verhoogde bewaringspogings het die bevolking van wilde olifante in die provinsie tot sowat 300 toegeneem van 193 in die 1980’s.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.