Onderwater-leeudans by akwarium

Duikers dra ʼn tradisionele leeukostuum (links) en ʼn geluksgodkostuum (middel) kyk terwyl ʼn skilpad verbyswem by die Aquaria-akwarium in Kuala Lumpur (21 Januarie 2022) (Foto: Arif Kartono/AFP)

Duikers het Vrydag in ʼn akwarium in Maleisië ʼn onderwater-leeudans uitgevoer as deel van ʼn nuwe manier om die tradisionele nuwe Chinese Maanjaar te vier.

Twee mense in ʼn veelkleurige leeupak het in een van die tenks by Aquaria in Kuala Lumpur die dans uitgevoer terwyl musikante buite die tenk op simbale en dromme gespeel het.

Skilpaaie en kleurvolle visse het verby die “leeu” geswem waar hy voor ʼn rotsformasie gedans het.

“Die onderwater-leeudans is iets uniek hier in die akwarium,” het Daryl Foong, uitvoerende direkteur vir Aquaria, aan verslaggewers gesê.

Die duikers moes spesiale opleiding ondergaan en pakke gebruik wat lig genoeg is sodat hulle onderwater kon rondbeweeg. Aquaria het al ʼn paar onderwater-dansuitvoerings gereël.

Leeudanse word tradisioneel in China uitgevoer en onder etniese Chinese gemeenskappe wêreldwyd om die nuwe Maanjaar te vier – wat vanjaar begin Februarie plaasvind.

In die tradisionele kunsvorm trek twee of meer dansers die kleurvolle kop en mantel aan en probeer om ʼn leeu se bewegings na te maak, op die maat van musiek.

Sommige glo die dans kan help om bose geeste te verjaag en goeie geluk te bring. Sowat ʼn kwart van die Moslem-meerderheid Maleisië se 32 miljoen inwoners is etniese Chinese.

ʼn Duiker (regs) voer ʼn onderwater-leeudans uit by die Aquaria-akwarium in Kuala Lumpur (21 Januarie 2022) (Foto: Arif Kartono/AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.