Ontspan ouers – dis veilig om ʼn Lego-blokkie in te sluk!

Skermgreep uit die video

ʼn Span dokters het Lego-blokkies ingesluk in ʼn poging om ouers gerus te stel dat dit veilig is as jou kind dit per ongeluk doen.

In ʼn artikel gepubliseer in die Joernaal van Pediatrie en Kindergesondheid, het ses navorsers van Australië en die Verenigde Koninkryk ʼn Lego-figuurtjie se kop (ongeveer 10 mm x 10 mm) ingesluk ter wille van navorsing.

Speelgoed is, naas muntstukke, die mees algemene ding wat kinders per ongeluk insluk en dit veroorsaak baie angs en spanning by ouers. Dié dokters het egter bewys dat die Lego-stukkie binne ʼn paar dae sonder enige pyn of nagevolge gepasseer.

Vir die spesiale Kersfees-uitgawe van die joernaal, waar dokters gewoonlik ongewone studies publiseer, het die span besluit om self proefkonyn te speel. Volgens die uitslag is die Lego-stukkie tussen 1,1 dag en drie dae gepasseer – ʼn gemiddeld van 1,7 dae.

Een van die outeurs, Grace Leo, het gesê sy hoop dié studie sal ouers gerus stel. Sy stel voor dat ouers by ʼn dokter aanklop indien die kind enigiets skerp ingesluk het, of enigiets wat langer as 5 cm of breër as 2,5 cm is. Kry ook mediese advies as die kind magnete, muntstukke of knopiebatterye ingesluk het of pyn ervaar. Klein, gladde plastiese voorwerpe behoort egter maklik te passeer. As ouers egter onseker is, word hulle steeds aangeraai om ʼn dokter te kontak, voeg Leo by.

“Ek kan nie onthou of dit voor of ná ontbyt was nie, maar ons het almal ons Lego-stukkies tussen 07:00 en 09:00 saam met ʼn glas water ingesluk,” het sy gesê. Nie een van die navorsers het enige simptome of pyn beleef nie, maar Leo het gesê persone moet asseblief nie die eksperiment by die huis probeer nie.

Aldus die verslag is dit moontlik dat kinders se ingewande anders kan reageer, maar “daar is min bewyse om dit te ondersteun”. “Dis waarskynlik dat voorwerpe selfs vinniger gepasseer sal word.”

Klik hier om die verslag te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

koos ·

MM kyk asb na die 3de paragraaf se laaste woord. “gepasseer word” of “passer”.
Ek wil nou nie ‘n taal dokter wees nie, maar dit klink snaaks.

Line ·

Gepasseer is die regte woord.
Dit beteken maar net die lego stukkie het deur die verteringstelsel beweeg en is in dis stoelgang gevind.

Misleidend ·

Die opskrif is baie misleidend, die berig verwys na ‘n Lego-mannetjie se kop wat klein en rond is terwyl ‘n Lego-blokkie reghoekig is, heelwat groter en skerp hoeke het.
Dit is geensins veilig om ‘n Lego-blokkie in te sluk nie!

Lego vreter ·

Ek het as kind baie Lego blokkies ingesluk, rondes, reghoekig, vierkantig.
Niks het met my gebeur nie
As hy in jou keel kan afgaan kan hy weer onder uit kom.

Blokkie ·

Lekker lag ek nou vir Lego vreter. Ons het ook blokkies gesluk en oorleef. Die nuwe generasie kindertjies se dermpies werk blykbaar anders :)

Marilize ·

Dis veiliger om ñ Lego-stukkie in te sluk as om op een te trap. Dís eina!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.