‘Oorlede man’ daag by gesin se huis op

Argieffoto: https://pixabay.com

ʼn Familie van Matsudo in Japan was nog besig om die dood van een van hul geliefdes te verwerk toe dié einste familielid by die huis opgedaag het, springlewendig en gesond.

Owerhede in Tokio het vandeesweek bevestig dié ongewone voorval het plaasgevind nadat die liggaam van ʼn man wat in ʼn rivier gevind is, aan die verkeerde familie oorhandig is. Die fout het aan die lig gekom toe die familie se vermiste familielid ongeveer ʼn maand gelede by die huis opgedaag het.

Die metropolisie in Tokio kon intussen daarin slaag om die identiteit van die liggaam vas te stel en het aan die oorledene se regte familie om verskoning gevra vir die fout.

The Mainichi-nuuswebtuiste berig die metropolisie het gesê die liggaam is op 21 Junie 2017 in die Edo-rivier van Tokio se Katsushika-buurt gevind. Ondersoekers het bevestig die oorledene het verdrink. Daar is geen tekens van die man se identiteit aan hom gevind nie.

Volgens die berig het die metropolisie vermiste persoon-sake wat by die polisie aangemeld is nagegaan en het toe vermoed die liggaam kan moontlik dié wees van ʼn man in sy 40’s van Matsudo, ongeveer 33 km vanaf Tokio, wat vroeër as vermis aangemeld is.

The Mainichi berig die vrou en twee ander familielede van die vermiste Matsudo-man het die liggaam as hul familielid uitgeken en die liggaam is kort daarna aan die familie oorhandig. Die vermiste man het egter vroeg in Mei by die huis opgedaag.

Dit het toe aan die lig gekom dat die oorledene eintlik ʼn ander man is wat dieselfde dag wat die liggaam gevind is as vermis aangemeld is. Vingerafdrukke het die ware identiteit van die man bevestig.

Tomoaki Uehara, ʼn senior beampte by die Tokio-metropolisie, het opreg om verskoning gevra vir die deurmekaarspul. “Die insident is uiters betreurenswaardig. Ons is vasbeslote om te verseker dat dit nie weer gebeur nie,” het Uehara gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.