Oorlogsbriewe bereik 69 jaar later hul bestemming

Chris Kunellis

Chuck Kunellis van Kalifornië in Amerika het verlede naweek uiteindelik twee briewe, wat sy pa 69 jaar gelede tydens die Tweede Wêreldoorlog aan sy ma geskryf het, ontvang.

Kunellis se pa, Chris, het die briewe in 1944 aan sy vrou geskryf terwyl hy in Italië in die Tweede Wêreldoorlog geveg het, berig KXTV. Die briewe het glo in die pos verlore geraak en nooit hul bestemming in Arlington, Virginia, bereik nie.

John Armstrong, ‘n seëlversamelaar van Australië, het onlangs die briewe van ‘n Amerikaanse handelaar aangekoop en die internet gebruik om die Kunellis-gesin op te spoor. “Ek was nog altyd ‘n historikus. As ek die storie kan beëindig deur dit na die regte persoon te stuur, sal dit wonderlik wees,” het Armstrong aan KXTV gesê.

Die briewe het uiteindelik verlede naweek in Fair Oaks, Kalifornië opgedaag.

Een van die briewe lui soos volg: “Hoe gaan dit, my lief? Jou pos kom nie by my uit nie en ek is angstig om te weet hoe dit gaan.”

“Dit is wonderlik vir Chuck om dié gedeelte van sy familiegeskiedenis te hê,” het Kunellis se vrou, Pamela, gesê. “Albei sy ouers is reeds oorlede.”

Besoek KXTV vir ‘n video-onderhoud met Chuck Kunellis en John Armstrong.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.