Oostenrykers aangemoedig om tatoe te kry

Argieffoto (Foto: Aamir Mohd Khan / Pixabay)

Die Oostenrykse regering moedig die publiek aan om ʼn spesifieke tatoe te kry – en beloon diegene wat aan die versoek voldoen.

Beamptes van die ministerie van omgewingsake het tatoewinkels by twee feeste opgerig waar die eerste drie mense, wat bereid is om die woord “Klimaticket” op hulself te laat aanbring, ʼn jaar lank gratis treinritte reg oor Oostenryk sal kry in ruil vir hul moeite.

Klimaticket of “klimaatkaartjie” is deel van die land se pogings om individuele motorvervoer te verminder, ter wille van die omgewing.

Die tatoes is by die Electric Love Festival in Salzburg and die Frequency Festival in St. Polten aangebied.

Ses mense was bereid om die tatoe te kry terwyl Euronews berig dat sowat ʼn kwart miljoen mense reeds die jaarlikse kaartjie teen €1 095 (ongeveer R22 000) aangeskaf het. Oostenryk het ʼn bevolking van byna 9 miljoen mense.

UPI het berig oor kritiek van Henrike Brandstötter, ʼn lid van die parlement, wat gerig is aan klimaatminister Leonore Gewessler: “Om mense geld aan te bied om advertensies onder hul vel aan te bring, onthul ʼn onaanvaarbare siening van menslikheid van ʼn regeringsminister.”

Gewessler sê die tatoes is slegs beskikbaar aan mense ouer as 18 jaar en word bedags aangebring om die moontlikheid te verlaag dat ʼn persoon onder die invloed dalk sou instem.

Sy het nog kritiek op die hals gehaal: “Wat is volgende? ʼn Gratis verwarmer vir enigiemand wat Gewessler se naam op hul voorkoppe aanbring?” berig die Telegraph.

The Standard-koerant het die aanbod as “ongelooflik dom” beskryf.

Volgens Euronews word geen verdere soortgelyke geleenthede vir die res van die jaar beplan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Oom ·

In Openbaring word iets in die volgende trant gesê: En slegs diegene met die merk op hulle voorhoof sal kan koop.

Piet Snot ·

Herinner my aan so 80jr gelede, toe ʼn sekere Oostenrykse korporaal gereël het dat sekere mense gratis nommers op hul voorarms getatoeer kon kry.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.