Operahuis se eerste konsert is spesiaal vir die plante!

Gran Teatre del Liceu in Barcelona, Spanje (22 Junie 2020) (Foto: AP Photo/Emilio Morenatti)

Die Gran Teatre del Liceu in Barcelona het Maandag vir die eerste keer ná die Covid-19-afsonderingsperiode sy deure oopgemaak en sy eerste konsert aangebied – vir ʼn gehoor wat nie bekommerd hoef te wees oor sosiale distansiëring nie.

In plaas van mense, het die UceLi-kwartet Giacomo Puccini se I Criantemi voor 2 292 plante – een vir elke sitplek in die teater – opgevoer. Die konsert is ook regstreeks uitgesaai sodat mense daarna kon luister.

Die Spaanse kunstenaar Eugenio Ampudia het die geleentheid georganiseer en gesê hy is tydens die pandemie deur die natuur geïnspireer. “Ek het baie meer voëls hoor sing. En die plante in my tuin en elders het vinniger gegroei. En ek het gedink ek kan miskien nou baie nader wees aan mense en die natuur,” het hy voor die uitvoering gesê.

Aan die einde van die agt minuut lange konsert (video onderaan hierdie artikel) was die geruis van blare en takke in die wind hoorbaar, in plaas van ʼn luide applous.

Die teater het gesê die plante word geskenk aan plaaslike gesondheidsorgwerkers om dankie te sê vir hul werk tydens die pandemie. Plaaslike kwekerye het die “gehoor” verskaf.

Spanje se noodtoestand is Sondag opgehef ná drie maande lange beperkings op beweging en byeenkomste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.